Die perfekte kar vir Thor

Jeep stel nuwe Gladiator bekend
Dirk Gallowitz
Jeep SA het onlangs na ’n lang wik en weeg of die Gladiator bakkie wel na Suider-Afrika gaan kom, uiteindelik die nuwe Gladiator dubbelkajuit in Gauteng bekendgestel, en ons kon toe die hardebaard veldryer eerstehands beproef.
Die Jeep handelsmerk is deesdae in die groter Stellantis-stal wat meer dollars in hulle bankrekening het en wat uiteindelik die Jeep handelsmerk in Suid-Afrika en ook in markte elders in die wêreld ’n groter impak kan gee.
Die Gladiator is al in 2018 in sy tuisland Amerika bekendgestel, maar met Covid-19 se vernietigende uitwerking op die motornywerheid en met die verswakkende rand, kon ’n relatief klein handelsmerk soos Jeep nie in die aanvraag na wêreldmarkte voorsien nie. Danksy Stellantis gaan avontuurlustiges en buitelugliefhebbers hier nou meer Jeep nismodelle, onder meer ook die Wrangler, plaaslik kan koop.
Groot en fris
Die Gladiator is ’n groot en fris dubbelkajuit en kan vergelyk word met die Land Rover Defender 130 van ’n paar jaar gelede en dalk ook met Toyota se Land Cruiser 79 dubbelkajuitbakkie. Die Gladiator het ’n veel langer lyf en groter wiele as wat jy kry met jou tradisionele dubbelkajuit bakkies wat tans beskikbaar is. Die Gladiator is intimiderend groot, met ’n totale lengte van 5,540mm. Die wielbasis is 3,490mm lank met die gevolg dat jy gaan sukkel om jou Jeep Gladiator in die knap onderdak parkeerplekkies van jou plaaslike inkopiesentrum te parkeer.
Die ontwerp laat toe dat die dak, voorruit en deure verwyder kan word sodat jy sonder spiere nog steeds willewragtag-sterk in die veld kan vertoon. So dis meer ’n Arnold in "Terminator" as Bruce in "Die Hard" - dis nou as hardebaarde van staalwol gemaak is - as jy verstaan wat ek bedoel! Soortgelyk aan Jan Wilkens desjare in die stoeikryt. Jy is gewetter tot jy hensop, boeta! So anders as die pretensieuse en vooraf geoefende rondval in ’n WWE rofstoeikryt met blink geoliede spiertiere en goeie "moves"!
In Amerika is die Gladiator in vier modelle beskikbaar, naamlik die Sport, Sport S, Overland en topmodel Rubicon, maar Stellantis SA het besluit om net die Rubicon hierheen te bring. Plaaslike Jeep liefhebbers ken die Rubicon naam van onder andere die Jeep Wrangler wat hier by ons te koop is. Die Rubicon weergawe is altyd die model wat die mees geskik is vir rowwe veldry toestande.
Omvattend toegerug
Binnekant is die Gladiator Rubicon uitstekend en omvattend toegerus met ’n lang lys van standaardtoerusting wat meeste, indien nie alle dubbelkajuitbakkies tans te koop, troef. Daar is onder meer verhitte sitplekke en ’n multifunksie stuurwiel wat beide oor verhitting beskik. Ook is sleutelose toegang en aanskakeling standaad ingesluit. ’n Nuwe 8.4” duim kleur raakskerm wat toegang bied via Apple CarPlay en Android Auto na klank-, kommunikasie- en voertuiginligtingstelsels is ook standaardtoerusting.
Verder is drie USB koppelpunte voor en twee USB punte vir die agter sitplekke standaard beskikbaar. Daar is ook ’n oulike waterbestande Bluetooth-luidspreker onder die agtersitplek wat uitgehaal en buite die gladiator gebruik kan word. Onder die agter sitplekke is praktiese stoorplek en dit kan ook gesluit word.
Verder is die Gladiator standaard toegerus met etlike aktiewe en passiewe veiligheidstelsels wat aanpasbare spoedbeheer, blindekol waarskuwing asook 'n uitstekende tru-kamera insluit.
Enjin, verrigting en paddinamika
Jeep SA het gekies om die Gladiator plaaslik met neet een enjin-weergawe beskikbaar te stel. Die beproefde 3,6 liter V6 natuurlik ge-aspireerde petrol enjin word gekoppel aan 'n heel skaflike 8-gang outomatiese ratkas met 'n lae-strek ratkas, wat na ons mening 'n groot aanwins vir die Gladiator is. Die enjin lewer 213kW en 353NM se piek kragte en kombineer uitstekend met die 8-gang outokas op die ooppad en in die veld. Ons brandstofverbruik na ooppad en uitdagende veldry was in die omgewing van 14 liter/100km.
As jy die Gladiator koop, moenie die paddinamika of verfyndheid van ’n Duitse SUV verwag nie. Die Gladiator se ontwerp en bou-filosofie is die van ’n hardebaard veldryer wat vir niks sal stuit nie. Op die ooppad is die kajuit maar raserig, die hantering nader aan die van ’n trok as ’n gewone dubbelkajuit bakkie met ’n stuurgevoel wat daarby pas.
Op die grondpad hanteer die Gladiator na ons mening net so goed en in sekere situasies beter as enige gewone dubbelkajuitbakkie tans beskikbaar en ons het hom teen 120kpu plus daar beproef.
Wiele
Die 32” BF Goodrich 255/75/R17 rubber op 17” Granite Crystal allooi wiele het slaggate en ongelyke sinkplaat grondpaaie absoluut geïgnoreer. Danksy die 5-skakel springveerstelsel met die peperduur Fox veldry skokbrekers, het die Gladiator slegte grondpaaie soos teerpaaie laat voel.
In die veld en veral deur, oor en onder uiters uitdagende veldry toestande het die Gladiator sy legendariese veldry reputasie gestand gedoen. Die Gladiator is toegerus met 'n Rock-Trac permanente 4-trek stelsel met 'n “4-LOW” laestrek funksie wat bygestaan word met voor en agterste ewenaarslotte en beperkte-gly ewenaars.
Verder bied die Gladiator derde generasie Dana 44 aste en kan die anti-swaai stawe op die vooras ontkoppel word met behulp van ’n skakelaar in die kajuit vir wanneer "bobbejaanklim" noodsaaklik word. Onder die Gladiator se pens is daar dik beskermplate en rotsgly-beskermers wat aan die kante keer wanneer onnodige skade tydens uitdagende veldry ekskursies heel waarskynlik is.
Met 'n grondvryhoogte van 249mm, waterry-diepte van 800mm en inklim-/vertrekhoek van 43,4 en 26 grade onderskeidelik kan slegs hardebaard veldryers saampraat. Verder kan die Gladiator 693kg se gewig agter op die bak laai en boonop, 'n treilergewig van 2721kg sleep.
In ’n neutedop
Jeep het ’n stewige en bykans fanatiese aantal liefhebbers wie se monde al water om die nuwe Gladiator Rubicon in die hande te kry. Te danke aan bykans 90 verskillende Stellantis handelaars wat verskeie Jeep handelaarskappe insluit, gaan Jeep aanhangers al meer Jeep modelle naby of in hul omgewing kan sien.
Ongelukkig, weens wêreldwye voorraad tekorte te wyte aan Covid-19 probleme, gaan Jeep SA net omtrent 35 eenhede van die Gladiator Rubicon elke maand beskikbaar kan maak.