GWM se P300 dubbelkajuit – ’n slim opsie

Dirk Gallowitz
GWM Suid-Afrika het in Februarie vanjaar die nuwe P300 dubbelkajuitbakkie bekendgestel. Dit dien as die opvolger vir die uitgaande P-reeks en is ook die kleiner weergawe van die meer gereputeerde P500 dubbelkajuitbakkie, waarvan die luukse HEV-model algeheel die gesogte SA Bakkie van die Jaar-titel in 2024 ingepalm het.
Die eerste generasie P-reeks is in Desember 2020 plaaslik bekendgestel en het tot Februarie vanjaar oor 17 verskillende modelle beskik, insluitend vier enkelkajuite, agt kommersiële dubbelkajuitmodelle en vyf passasiers-dubbelkajuite.
Plaaslik is die nuwe P300 toegerus met ’n 2,4-liter viersilinder turbodiesel enjin en is tans slegs as dubbelkajuit in drie weergawes beskikbaar, naamlik die 2.4 LT 2WD, 2.4 LT 4WD en die topmodel 2.4 LTD 4WD. Ons het laasgenoemde vir ’n week lank toetsbestuur en was aangenaam verras.
Voorkoms en ontwerp
Die 2025 P300 is duidelik geskoei op die uitgaande model. In China staan die bakkie bekend as die “Poer”-reeks, terwyl dit in Australië as die “Cannon” bekend is.
Die nuweling is ontwerp om hard te werk, oor lang afstande te sleep, uitdagende veldrytoestande baas te raak en tog ook hoë vlakke van gerief, tegnologie en verfyndheid aan insittendes te bied.
Die vooraansig tref met ’n groot, aggressiewe sierrooster, skrefiesoog-LED-hoofligte en nuutontwerpte voor- en agterbuffers.
Die uitgeboude wielboë hurk oor 18”-sierwiele en vet rubber, terwyl swart en chroom kanttrappe die syprofiel netjies afrond. Agter word die groot agterklap ondersteun deur twee skokbrekers vir maklik oop- en toemaak. ’n Glas-sondak bied passasiergerief in ’n dubbelkajuitbakkiesegment.
Kajuit en toerusting
Binnekant bied die P300, soos die groter P500, segmentleidende vlakke van weelde en toerusting vir ’n werkbakkie.
’n Nuwe 12,3” vrystaande raakskerm/infotainment-skerm domineer die voorpaneel (daarenteen het die uitgaande model ’n 9” ingeboude skerm gehad), wat saam met die digitale 7” LCD-instrumentpaneel ’n moderne voorkoms aan die kajuit gee.
Die inligtingskerm bied toegang tot ritinligting, klank- en kommunikasiestelsels en word ondersteun deur Apple CarPlay en Android Auto-koppeling. Daar is ook ’n koordlose laaiblad vir slimfone, sleutellose Stop/Aansit asook Oop-/Toesluit, om maar net ‘n paar te noem.
Die leerbeklede stuurwiel, sitplekke en panele spreek van goeie materiale en vakmanskap en meng hoë vlakke van tegnologiese toerusting met goeie afwerking. Beide die geventileerde sitplekke en stuurwiel bied ook verhitting. Sagte stemmingsbeligting met die opsie van verskeie kleure bied ‘n gesofistikeerde afwerking wat nie in werksbakkies verwag word nie.
Die kajuit bied gemaklik sitplek aan tot vyf volwassenes met klasleidende beenspasie vir agterste insittendes.
Veiligheidstoerusting
GWM se 2025 P300 LTD soos getoets bied standaard omvattende aktiewe en passiewe veiligheidstoerusting, insluitend outomatiese noodremming, baanhouhulp met waarskuwing as die voertuig uit die baan beweeg sonder flikkerligte. Funksies soos “Driver Fatigue Monitoring” en “Traffic Sign Recognition” is ook standaard ingesluit. Daar is ’n 360° panoramiese kamerasisteem, blindekolmonitering en baanwisselhulp.
Verder bied die P300 omvattende lugsakbeskerming, “Intelligent Cruise Assistance” en “Collision Avoidance Systems”.
Enjin en verrigting
Die uitgaande P-reeks LTD se 2.0-liter turbodiesel (120 kW/400 Nm) maak plek vir ’n nuwe viersilinder 2.4-liter turbodiesel wat 135 kW en 480 Nm se piekkragte bied en krag na al vier wiele stuur met behulp van ‘n intelligente 9-spoed outomatiese ratkas, wat die uitgaande model se 8-spoed outo vervang.
GWM se amptelike brandstofverbruik word aangedui as 8,2 L/100 km vir ons 4x4-toetsmodel. Ons syfer, wat vragdra en diksandry ingesluit het, was 8,9 L/100 km na meer as 1 400 kilometer se gemengde siklus, wat steeds na ons mening uitstekend is.
Die P300 4x4 het ’n maksimum sleepkapasiteit van 3 500 kg as die vragwa oor remming beskik.
Ons kon ongelukkig nie die P300 2.4TD 4x4 se sleepvermoë toets nie, aangesien ons toetsmodel nie oor ’n sleepstang beskik het nie.
Ons kon wel die veldry, en spesifiek sandryvermoë, van die P300 toets en was aangenaam verras, danksy onder meer die slim ratkas, ’n elektroniese slot op die agterewenaars, Off-Road Expert Mode en TOD (Torque on Demand).
Opsomming
Ons was beïndruk met die gerieflike rit, lae wind-, pad- en enjingeraas van die P300. Ook die moeitelose verrigting van die nuweling het verras wanneer daar teen hoofwegsnelheid verbygesteek moes word.
Die nuwe 2.4L TD maak gebruik van ’n “Variable Geometry Turbocharger” (VGT), wat danksy beter ontwerpte lugvloei kraglewering en verrigting oor enige terrein verbeter teen laer brandstofverbruik. Die nuwe P300 se Advanced NVH (Noise, Vibration, and Harshness Optimisation) verfyn die enjinverrigting, maar verlaag terselfdertyd geraas- en vibrasievlakke in die kajuit.
Danksy die P300 se onderstel en veerstelsel, wat dubbelmikke voor en bladvere agter op ’n soliede agteras gebruik, hanteer die P300 gemaklik op pad en in die veld.
In geheel is die GWM P300 2.4 TD 4x4 dubbelkajuit ’n ruim, luukse bakkie wat net so gemaklik in die veld is as in die stad. Met hoë vlakke van die nuutste tegnologie, uitstekende brandstofverbruik en ’n pryskaartjie van minder as R700 000 is die P300 ’n slim opsie.