Haniball se bus vir vinnige aflewerings

2025 Ford Transit Custom Sport
Dirk Gallowitz
Ford SA het onlangs die Ford Transit-modelreeks uitgebrei en die Transit Custom Sport by die reeks gevoeg, om aflewerings vinnig, stylvol en met heerlike gemak te doen.
Die Ford Transit Custom is Europa se beste verkopende 1-ton-paneelwa en is al menigmaal bekroon as die Internasionale Paneelwa van die Jaar. Die huidige model dra dié titel vir 2024.
Ons het onlangs hierdie sportiewe Transit-bussie ontvang en het onmiddellik verlief geraak op die sportiewe voorkoms, hoë vlakke van gerief, tegnologiese toerusting en rygenot.
Die Ford Transit Custom is ook beskikbaar in ’n kortasafstandmodel, en die Sport soos getoets, is juis só ’n weergawe.
Met breë sportiewe renstrepe wat vanaf die voorste buffer oor die kort neus en dak tot by die agterdeure strek, ’n parmantige drukvin agter op die dak, asook 17” dofswart sportiewe allooiwiele, trek die Transit Custom Sport behoorlik aandag. Die gespierde bakpanele, donker vensters, LED-ligte en dagryligte, asook die heuningkoek-ontwerp van die sierrooster, dra alles by tot die Transit Custom Sport se visuele aantrekkingskrag.
Die kajuit bied twee gemaklike en geventileerde sitplekke met verhitting én verkoeling. Die sitplekke is beklee met ’n renstreep-tema wat die sportiewe buite-ontwerp volg. Die bestuurdersitplek bied elektriese verstelling in ses posisies, insluitend lumbale ondersteuning.
Toerusting
Die Transit Custom Sport is verbasend goed toegerus in standaardvorm, veral op die gebied van elektroniese, kommunikasie- en veiligheidstelsels.
Insittendes het toegang tot ’n 13” raakskerm bo-op die voorpaneel. Danksy Ford se SYNC 4-inligting- en kommunikasieplatform, asook Apple CarPlay en Android Auto, werk klank en verbinding glad en intuïtief — en koordloos. Daar is egter ook USB-A en -B-poorte vir wanneer ’n koord verkies word.
Die 12” digitale instrumentepaneel kan na ’n kleiner 8” konfigurasie verander word indien verkies, maar die inligting is maklik toeganklik met die druk van ’n skakelaar op die multi-funksie stuurwiel, wat ook in hoogte en diepte verstelbaar is.
Vir veiligheid is die 2025 Ford Transit Custom Sport toegerus met ses lugsakke, ABS-remme, stabiliteitsbeheer, en ’n lang lys aktiewe en passiewe veiligheidstelsels, insluitend: Evasive Steer Assist, Pre-Collision Assist met Outonome Noodremstelsel, Intelligent Adaptive Cruise Control, Blind Spot Monitoring and Assist, Driver Alert met Impairment Monitor, Lane Keeping Aid, Roll Over Mitigation en Intelligent Speed Assistance met Spoedtekenherkenning.
’n Groot pluspunt is die banddrukmoniteringstelsel wat op die instrumentepaneel vertoon kan word.
Die laaispasie agter is 2 602 mm lank en 1 392 mm breed tussen die wielboë. Die laer vloer en hoogte van net onder 2 m skep ’n laaivolume van 5,8 m³ en ’n maksimum ladingsgewig van 1 023 kg.
Blykbaar kan hierdie kortwielbasis-weergawe drie standaardgrootte Europese palette akkommodeer.
In- en uitlaai is ’n droom met twee groot elektriese kantskuifdeure en agterdeure wat 180° oopmaak.
Woema
Die 2025 Transit Custom Sport word aangedryf deur Ford se opgedateerde 2.0-liter viersilinder Enkelturbo EcoBlue-dieselenjin wat 125 kW en 390 Nm se piekkrag na die voorwiele stuur via ’n 8-spoed outomatiese ratkas.
Vyf ritmodusse is beskikbaar: Normal, Eco, Slippery, Tow/Haul en Sport.
Die voertuig het ’n 55-liter brandstoftenk en ’n addisionele 20-liter tenk vir die AdBlue-dieselbymiddel.
Hierdie Transit het my herinner aan my 1994/95 VW Caravelle 2.6i-dae, maar my liefde vir ’n van het begin met die TV-reeks A-Team en hulle swart paneelwa. Die Transit Custom Sport voel soos die moderne weergawe van die A-Team-bus. Sy aggressiewe voorkoms en wakker verrigting pas perfek.
En ja – dit het heelwat koppe laat draai!
Wat my ook beïndruk het, is die uitstekende hantering, rygerief en algemene genot om die Transit Custom Sport te bestuur, op die snelweg, grondpad, langpad en in stadsverkeer.
Dit het weer die begeerte by my laat opvlam om, soos die A-Team, ’n bietjie sports in ’n paneelwa te ervaar.
Ek sou dit in géén ander een wil doen as in die 2025 Ford Transit Custom Sport nie, al kos dit 'n stewige bedrag!