Koel Sweed met warm verrigting

Volvo se C40 Recharge bied opwindende elekriese aandrywing
Dirk Gallowitz
Die afgelope paar jaar, sedert die begin van die Covid-19-pandemie en later die oorlog in die Oekraïne, is die plaaslike motorindustrie hard getref. Tekorte aan noodsaaklike elektroniese onderdele en vertraagde en selfs gekanselleerde skeepsvragte om maar net twee te noem, het selfs die grootste en mees suksesvolle handelsname harde klippe laat kou.
Ons plaaslike ekonomie het ’n paar opstoppers gekry wat ons so hittete uitgeknikker het en motorverkope laat tuimel. Die stryd om oorlewing was fel, veral vir die kleiner vervaardigers in Suid-Afrika.
Volvo SA wat maar aan die buiterand van die bedryf in ’n nismark sake doen, het veral gesukkel om te oorleef, maar dit blyk hulle kon die storm deur ry en is tans veral woelig met ’n strategie wat elektriese aangedrewe voertuie betref. Daar is ’n paar opwindende nuwe modelle wat vir Suider-Afrika bestem is, onder andere die stylvolle en hoogs tegnologiese EX90 SUV.
Een van die eerste verrassings is die 2023 Volvo C40 Recharge, ’n aangrypend mooi kompakte SUV koepee met verrigting wat my na asem laat snak het.
Daar is tans ’n legio battery/elektriese motors beskikbaar van vervaardiges soos Mercedes se EQ’s, BMW i-modelle, Audi E-tron, Toyota RAV-E en selfs Haval en ander modelle uit China. Verkope is maar traag, want die pryse is relatief hoog en ons infrastruktuur ten opsigte van herlaaipunte en die onstabiele beskikbaarheid van elektrisiteit, dra nie juis by tot verbruikersentoesiasme nie. Verder bly reikafstand en battery-reikafstand ’n tameletjie en is die mees praktiese gebruik vir hierdie voertuie beperk tot binne die grense van stedelike areas.
Voorkoms en ontwerp
Die C40 Recharge is Volvo se eerste doelgeboude BEV (Battery Elektriese Voertuig) en vertoon op die oog af soos ’n koepee weergawe van die Sweedse vervaardiger se gewilde kompakte XC40 sportsnuts. Die C40 Recharge trek egter aandag danksy ’n sportiewe koepee-agtige daklyn ontwerp en moderne aggressiewe stilering wat alles saamwerk vir ’n laer windweerstand en beter battery reikafstand. Die voor en agterste ligontwerpe is ook treffend.
Volvo is meesters van minimalisme in hul kajuite met die C40 Recharge ’n sprekende voorbeeld daarvan waar skoon lyne met kliniese stilering en praktiese ontwerp gekombineer is.
Verder het Gothenburg se witjasse materiale van hoë gehalte gebruik waarvan meeste herwin is. Geen leer is byvoorbeeld gebruik met die bekleding van die kajuit nie.
Volvo SA het die C40 Recharge bekendgestel in sy luukste afwerkingsvlak bekend as “Ultimate” wat beteken die model is omvattend toegerus met onder meer ’n verhitte stuurwiel en sitplekke, Harman Kardon-klankstelsel, panoramiese sondak asook elektries beheerde voorste sitplekke en vyfde deur.
Die C40 Recharge is toegerus met Google Automotive waarvan die sagteware die infotainment en kommunikasiestelsel aandryf, asook die navigasiestelsel deur Google Maps bedryf. Dit ondersteun ook ander Google dienste soos Spotify, Waze en YouTube wat jy met wifi kan opdateer wanneer nodig.
Die instrumentasie agter die stuurwiel vertoon modern en die verskillende inligtingsfunksies en beelde kan vanaf die stuurwiel verstel en verander word.
Die kajuit straal ’n ambiaans uit van onderbeklemtoonde weelde en bied gemaklike sitplek aan vyf insittendes.
Wat veiligheid betref, kom die C40 Recharge standaard toegerus met Volvo se Pilot Assist en City Safety asook funksies waar die stelsel blindekolle, onbedoelde baanverwisseling en verkeer wat dwars agter die voertuig wil verbykom dophou en dan die bestuurder dienooreenkomstig waarsku.
Aandrywing, kraglewing en reikafstand
Aandrywing is na al vier die wiele danksy twee elektriese motors wat indrukwekkende piekkragte van 300kW en 660Nm lewer. Die laat die C40 Recharge ’n verstommende 0-100kpu lopie aflê in 4,7 sekondes!
Praat van ’n jagluiperd met die voorkoms van ’n bulhond.
Die C40 Recharge is toegerus met ’n 78 kWu battery wat volgens Volvo genoeg is om ’n afstand van 444km af te lê. Afhangend van die tipe en sterkte van die battery laaiers kan die C40 Recharge van pap tot volsterkte gelaai word in minder as ’n uur op die sterkste 150kWu DC laaiers tot so lank as agt ure op jou huiskrag van 3,5kWu.
Ek het baie gehou van hoe gemaklik en bestuurdervriendelik die Volvo C40 Recharge is. Sluit oop, klim in, sit die veiligheidsgordel aan, kies die “Drive” of “Reverse” opsie op die ratkierie, haal die voet van die rem en met die trap van die versnellerpedaal beweeg jy. Geen aansitter nie!
Sonder die klanke van musiek of radio is die luukse kajuit uiters stil op die pad met indrukwekkende ritgehalte, selfs met die nadeel van die topmodel “Ultimate” se groot 20” wiele en lae profiel bande. Bougehalte en klankdemping is merkbaar in die afwesigheid van pad- en windgeraas.
Ek was aangenaam verras met die goeie greep, bakbalans en stabiliteit oor Franschhoek pas se knap draaie. Die onmiddellike kraglewering wanneer uit ’n draai versnel word en die daaropvolgende harde remming voor die volgende draai het keer op keer beïndruk.
In 'n neutedop
Ek is geen aanhager van battery-elektriese voertuie nie, maar die Volvo C40 Recharge het my nagenoeg bekeer. Die pragtige sportiewe koepee ontwerp kom met die nadeel dat langerige passasiers effe met kopspasie kan sukkel op die agterste sitplekke, maar dit is die realiteit by meer as 90% van alle koepee ontwerpe.
Wat my betref is die Volvo C40 Recharge bo-aan my lys in die battery-elektriese SUV segment
Die C40 Recharge kos om en by N$1,3 miljoen. Ingesluit by die prys is ’n 5 jaar/100 000 km onderhoudsplan en waarborg. Die batterypak word gewaarborg vir 8 jaar/160 000 km.
Ook ingesluit by die prys is ’n Volvo-muurgemonteerde batterylaaier en ’n 7 meter doelgemaakte laaikabel vir jou C40 Recharge.