Mahindra se Storm bied beste waarde vir geld

SA Bakkie van die Jaar-kompetisie
Dirk Gallowitz
Die Indiese motorvervaardiger Mahindra doen tans bo verwagting goed in Suider Afrika, met nuwe modelle soos die Scorpio N SUV, ’n vergrote handelaars netwerk, asook ’n monteeraanleg vir die gewilde Pik Up bakkies in Durban, om maar net ’n paar feite te noem.
Mahindra het ook onlangs met een van sy spesiale modelle, Dusk, Storm en Dawn, deelgeneem aan die eerste SA Bakkie van die Jaar-kompetisie. Die pragtige grysblou-kleurige Storm-weergawe het beïndruk op verskeie terreine.
Die Storm, soos die ander twee modelle, is standaard toegerus met spesiale veldrywiele en bande asook ’n swaardiens-veerstelsel. Verder kry al drie modelle spesiaal ontwerpte staalbuffers voor en agter wat toegerus is met versterkte sleephake en LED-ligte. Die buffers is stewig aan die onderstel geheg. Die gewone rolstaaf wat by Karoo modelle standaard is, is steeds daar. Verder is daar spesiale insignia buite en binne die kajuit.
Onder die kap
Binnekant is daar onder meer volle leerbekleedsel asook dieselfde rubbermatte soos in die ander Karoo modelle. Al drie modelle bied ’n volkleur 9”-raakskerm met Bluetooth, Android Auto, Apple Car Play en navigasie asook laai/koppelpunte vir slimfone.
Die Storm se spesiale grysblou kleur het inspirasie gekry uit die Karoo se stormwolke se kleure wat gekomplimenteer word met swart en grys “Karoo”-kentekens. Die Storm se laaibak is ook uitgevoer met die swaardiens rubberlaag en die bak word met ’n seiltjie toegemaak.
Tydens die 2023 SA Bakkie van die Jaar-kompetisie het die organiseerders die nege deelnemende bakkies in drie kategorieë laat meeding, naamlik 100-120 kW, 121-150 kW en 151-190 kW. Die Mahindra Storm word aangedryf deur ’n 2.2 liter turbodieselenjin wat 103 kW se maksimum kraglewering met 320 Nm piek wringkrag wat tussen 1500 en 2800 rpm beskikbaar is.
Die Storm het in die intree 100-120 kW enjin kategorie meegeding
Ten spyte dat die Mahindra die minste enjinkrag van al die deelnemers gehad het, het ons nooit gevind dat die bakkie mank gaan aan te min krag nie, selfs nie tydens ons uitdagende sleepsessies oor styl teerpadheuwels en later dik, los riviersand nie, terwyl ’n MobiX bossleepwa van bykans 1 ton agteraan gehak was.
Die Mahindra Karoo Storm stuur krag na al vier wiele met behulp van ’n 6-gang outokas wat ook oor ’n laestrek funksie beskik.
Deelnemers
Al die deelnemende bakkies was die top luukse dubbelkajuit 4x4 outomatiese weergawes van agt verskillende vervaardigers. Daar was saam met die Mahindra Karoo Storm ook die Peugeot Landtrek Africa Edition, GWM se P-series Ltd, Mitsubishi Triton Xtreme, Nissan Navara Pro4X, Isuzu D-Max 3.0l V-Cross, VW Amarok 154kW 2.0BiT, Toyota Hilux GR-S en die VW Amarok 3.0TDI Panamericana.
Die Bakkie van die Jaar-deelnemers was in drie toetskategorieë beoordeel deur drie verskillende juriespanne wat met die hand uitgesoek was vanweë hul ervaring en kundigheid in die kategorie wat hulle beoordeel het – alles om seker te maak die bakkies word tot die uiterste beproef en teen die vereistes getoets.
Elkeen van die drie toetskategorieë se toetsing vereistes is opgestel deur gerespekteerde en uiters kundige direkteure onder wie se leiding die toetse oor etlike dae afgelê is.
Suid-Afrika se motorsport legende Sarel (Supervan) van der Merwe het die hoëspoed hantering en paddinamika van elke bakkie behoorlik getoets en is bygestaan deur ’n juriespan met bewese ervaring van baan- en tydrenne.
Gerhard Groenewald van Klipbokkop het die 4x4 asook die “Sleep” kategorie se toetsvereistes opgestel en gemonitor. Elke kategorie het bestaan uit meer as 50 toetsvereistes wat omtrent elke moontlike fasset en toetsing in die veld en tydens sleep gemeet en beoordeel het met twee afsonderlike span beoordeelaars van agt elk wat uit ervare media en industrie spesialiste bestaan het.
In ’n neutedop
Die Mahindra Karoo Storm het uitstekend presteer in die veld, maar te wyte aan ontwerp en toerusting wat gemik is op die veldry avontuurlustige, minder goed gedoen tydens die hoëspoed en hanteringsdinamika, wat heel verstaanbaar is – ’n filosofie van “form over function”.
Die beoordeelaars van die Bakkie van die Jaar-kompetisie was ook beïndruk met die hoë vlakke van swaardiens veldry herwinningshakke asook sleepstang wat as standaard toerusting by die Storm teenwoordig is.
Omdat luukse dubbelkajuit 4x4 outomatiese bakkies by uitstek leefstylvoertuie is en redelik hoë koste in terme van prys en onderhoud vereis, het die organiseerders dit goed geag om ook ander relevante faktore te meet waar onder meer bekostigbaarheid bepaal word soos wat dit amptelik in die motorindustrie gemeet word.
Lightstone is versoek om amptelike syfers te verskaf wat elke deelnemende model se koste oor vier jaar of 80 000 km meet in ten minste vier vereistes. Versekeringpremies, onderhouds-/dienskoste, brandstofverbruik teen die amptelike syfer van elke bakkie, asook inruilwaarde as ’n persentasie van die koopprys na vier jaar of 80 000 km is verskaf en verwerk ten einde ’n syfer te bekom wat elke bakkie se amptelike koste van eienaarskap oor hierdie tydperk bepaal het.
Die Mahindra Karoo Storm was byvoorbeeld die goedkoopste bakkie in die kompetisie met ’n verkoopprys van onder N$650 000 tydens ons toetse tussen Julie en September 2023, maar was nie die ligste op brandstof in terme van amptelike syfers verskaf nie.
Die Storm bied egter ingesluit by die prys ’n 4-jaar/120 000 km waarborg asook ’n diensplan van 5-jaar/90 000 km wat dienskoste oor die vereiste periode nul gemaak het. Die prys van ’n stel bande soos toegerus op elke deelnemende bakkie is egter bygereken.
Alles in ag genome is die Mahindra Karoo Storm bekroon as die bakkie met die laagste koste van eienaarskap gemeet oor vier jaar of 80 000 km. Voorwaar iets om te oorweeg wanneer kopers ’n luukse dubbelkajuit 4x4 outomatiese bakkie wil aanskaf.