Meer as net Grênd
Opel se Grandland GS Line 1.6T
Stellantis SA het vroeër vanjaar sy nuwe Opel Grandland, ’n middelgroot SUV, bekendgestel en ons het onlangs een vir ’n week bestuur om dit te evalueer.Die Opel Grandland is groter as die vorige model, maar die ontwerp is veel meer treffend. Met Opel wat deesdae deel van die Stellantis-konglomeraat is, deel die nuwe Grandland ’n onderstel met die Peugeot 5008 en Citroën C5 Aircross.
Die nuwe Grandland se voorkant vertoon stylvol met die 3D Vizor-ontwerp, waar die Matrix LED IntelliLux hoofligte en die Blitz-logo met ’n LED-ligband aanmekaar verbind word agter ’n deursigtige glasagtige paneel. Die daklyn vloei swiepend na agter en eindig byna regaf by die agterklap en agterste buffer, wat die voertuig gelyktydig stylvol en sportief laat voorkom.
Die agterligte is veral indrukwekkend in die aand, met ’n horisontale rooi ligband wat die agterligte verbind en die “OPEL”-naam in rooi LED laat uitstaan. Die Grandland-insignia is laag op die agterklap in stylvolle letters aangebring.
Die ontwerpfilosofie van die nuwe Grandland vertoon duidelik verwantskap met die nuwe Mokka. Die toetsmotor se swart bakkleur en donker vensters dra verder by tot die stylvolle voorkoms.
Kajuit en toerusting
Danksy die groter afmetings van die nuwe Grandland (19 mm hoër, 64 mm breër en 173 mm langer as die vorige model) bied die kajuit nou meer kop-, been- en skouerspasie, sowel as ’n bagasieruim wat tot 550 liter vergroot is. Die agterklap kan elektries oop- en toegemaak word danksy ’n knoppie op die sleutel, ’n knoppie op die agterdeur en swiepbewegings van die voet onder die agterbuffer.
Binnekant is die moderne, ruim kajuit uitstekend uitgelê en met goeie materiale beklee, waarvan Opel beweer 100% van herwinde materiale is. Dit sluit onder meer nagemaakte leer, denim-agtige materiale, pragtige fluweel, sagte rubber en gepoleerde aluminium in.
Die kajuit is omvattend toegerus met bestuurdershulp, aktiewe en passiewe veiligheidstoerusting, insluitend heuwel-wegtrek-hulp, aanpasbare spoedbeheer, blindekolmonitoring en waarskuwing.
Die voorpaneel word gedomineer deur ’n langwerpige 16” skerm, waarop die 360°-kamerastelsel se beelde, voertuiginligting en alle klank- en kommunikasie-inligting beskikbaar is. Die stelsel werk gemaklik en intuïtief. ’n Digitale 10” skerm agter die stuur huisves die instrumentasie-inligting. Die minimalistiese ontwerp van die voorpaneel sluit steeds noodsaaklike skakelaars en knoppies in.
Ratte word vervang deur ’n goedgeplaaste skakelaar in die middelkonsole tussen die voorste sitplekke, net bo die Pixel Box met ’n skuins glaspaneel waar ’n slimfoon draadloos gelaai kan word. Die elektries verstelbare voorste sitplekke bied verhitting, verkoeling en masseringsfunksies vir die bestuurder.
Enjin, verrigting en paddinamika
Die 2025 Opel Grandland GS Line is in beskikbaar met dieselfde 1.6-liter PureTech turbopetrolenjin as sy voorganger. Opel het egter die piekkraglewering met 13 kW en 60 Nm verhoog tot 134 kW/300 Nm, wat krag na die voorwiele stuur via ’n gladde 6-gang outomatiese ratkas met drie ritmodusse (Normaal, Eko en Sport). Die enjin en ratkas werk goed saam vir gemaklike verrigting, veral in Sport-modus. Amptelike brandstofverbruik word aangedui as 7 km/l, wat goed is vir gemengde gebruik.
Op die pad is die nuwe Grandland gemaklik om te bestuur, selfs op grondpaaie, en bied ’n aangename rit in die ruim kajuit. Die onderstel en veerstelsel was ’n positiewe verrassing, grootliks te danke aan skokbrekers wat elektronies aanpadoppervlaktes aanpas, insluitend spoedwalle, sonder groot impak op passasiers.
Die 2025 Opel Grandland GS Line 1.6 turbo is ’n sterk opsie in die mededingende segment van middelslag-SUV’s. Die voertuig is ruim, goed gebou, uitstekend toegerus en meer ekonomies as sommige opponente. Die grootste nadeel is die prys van ongeveer N$800 000, wat nie te veel is vir wat gebied word nie, maar hoër as vergelykbare opsies uit China.


