Mooier en sagter op die oog, maar die prys byt

VW Tiguan 1.4 TSI R-Line
Dirk Gallowitz
Volkswagen Suid-Afrika het einde verlede jaar die derde generasie van sy middelgrootte sportsnuts, die baie gewilde Tiguan, plaaslik bekendgestel. Die uitgaande model, wat die tweede generasie van dié reeks was, is in 2016 op plaaslike bodem losgelaat en het sy segment met sterk verkope gedomineer.
Voorkoms en ontwerp
Terwyl die tweede generasie koppe laat draai het met skerp hoeke, sterk aksentlyne en ’n futuristies-moderne, maar terselfdertyd sportief-aggressiewe voorkoms, veral in die R-Line-afwerking, vertoon die 2025-model veel sagter op die oog met meer ronde kurwes as skerp hoeke.
Waar die uitgaande model met sy stasiewa-ontwerp as ’n kleiner Touareg beskou kon word, kan die nuweling se ronder ontwerp en voorkoms maklik met dié van ’n T-Roc verwar word. Soos die ou model word die nuwe Tiguan steeds op Wolfsburg se MQB-platform gebou.
Die nuwe Tiguan is effens langer en breër as die vorige model, maar vertoon tog kleiner, dalk weens die ronder ontwerp. Ons was egter aangenaam verras met die nuweling se pragtige kajuit wat beter verpakking, ontwerp en toerusting bied as die uitgaande model.
Kajuit en toerusting
Die ruim kajuit bied gemaklik sitplek vir vyf volwassenes, met genoeg been-, kop- en skouerspasie.
Afwerking is uitstekend en die moderne toerusting, kliniese ontwerpstyl en uitleg van die voorpaneel se digitale infotainment- en instrumentasieskerms is treffend. Ook die funksionaliteit en voorkoms van die skakelaars dra daartoe by dat die nuwe Tiguan se kajuit - na ons mening - as klasleidend en waarskynlik die mooiste in sy segment beskryf kan word.
Vreemd vir ons was die rathefboom wat nou as ’n “skakelaar-armpie” langs die stuur gemonteer is. Ratskakeling geskied nou met ’n draai-aksie: vorentoe draai om “D” te selekteer vir ry, en terugdraai vir “R” om in trurat te kom, iets waaraan ’n mens moet gewoond raak.
Die laairuim kan vyf insittendes se naweekbaggasie met gemak hanteer, met die platvou van die agterste sitplekke wat die laairuim se kapasiteit meer as verdubbel.
Ons toetsmodel in sportiewe R-Line-afwerking het ook oor ’n panoramiese glasdak beskik wat elektries kan oopskuif. LED-beligte panele en stemmingsbeligting met ’n keuse van verskeie kleure bring ’n treffende effek tot die kajuit in die donker.
Die lang lys van standaardgeriefsfunksies, asook bestuurderhulpstelsels, word verder ondersteun met die nuutste aktiewe en passiewe veiligheidstelsels. Volkswagen bied uiteraard ook ’n uitgebreide lys van opsionele styl-, gerief- en bestuurderhulpfunksies aan kopers van die nuwe Tiguan.
Enjin en verrigting
Ons toetsmodel, die 1.4 TSI R-Line, is toegerus met VW se 1 395 cc 4-silinder turbopetrolenjin wat 110 kW en 250 Nm se piekkrag lewer. Aandrywing is na die voorwiele met behulp van ’n 7-gang outomatiese ratkas. Die amptelike brandstofverbruik word aangedui as 6,1 ℓ/100 km, met gemengde gebruik tussen ooppadry en stadsverkeer.
Die ratkas bied vyf ritmodusse wat met ’n draaiknop op die middelkonsole langs die elektroniese handrem geselekteer word.
Die 1.4 TSI-enjin is geensins lui nie en het geen probleem gehad om lang trokke teen heuwels op die ooppad verby te steek nie. Tog dink ek dat, met vyf volwassenes, hul bagasie gelaai en ’n klein sleepwaentjie of boot agteraan, die 1.4 TSI dalk teen die heuwel bietjie sal hyg. Die 2.0-liter turbodiesel sal waarskynlik dan my keuse wees. Vir ’n stadskarweier is die 1.4 TSI egter heel bekwaam.
Opsomming
Ons verkies die ontwerp en buitevoorkoms van die uitgaande Tiguan met R-Line-afwerking, daardie groot wiele en laeprofielbande wat onder die uitgeboude wielboë vou, bly vir my ’n wenkombinasie. Maar dis my persoonlike smaak. Die nuwe model se stil en pragtige binneruim steel egter beslis die hart.
Die nuwe Tiguan se rit is aangenaam, selfs oor effense sinkplaat-grondpadoppervlaktes, met uitstekende brandstofverbruik, ’n besliste pluspunt vir die 1.4 TSI.
Die 2025 Volkswagen Tiguan 1.4 TSI R-Line verkoop teen N$766 300, en dit mag dalk net die nuweling se “Achilles-hiel” wees teen die aanslag vanuit die Ooste.