Motors: ’n Nuwe opsie uit Indië
Tata het ná ’n afwesigheid van ongeveer ses jaar weer ’n toetrede tot die Suider-Afrikaanse motortoneel gemaak met ’n reeks van vier passasiersmotors. Een van die modelle is ’n middelgroot SUV wat as die Harrier bekend staan en in drie afwerkingsvlakke beskikbaar is.
Ons het onlangs die topmodel Harrier Fearless+ 2.0-turbodiesel met ’n outomatiese ratkas vir ’n week getoets.
Voorkoms en ontwerp
Die Tata Harrier trek aandag met ’n moderne voorkoms en stilering wat skerp hoeke en aksentlyne vertoon. Die ontwerp van die voorkant met LED-ligte onderstreep die fors voorkoms wat die Harrier tussen sy mededingers laat uitstaan.
Van mededinging gepraat: die Harrier ding mee in ’n segment waar kompetisie uiters straf is, teen onder meer dieselmodelle van die Hyundai Tucson, Kia Sportage en VW Tiguan. As petrol- of hibriede weergawes ingesluit word, is Toyota se Corolla Cross en Urban Cruiser, asook die Suzuki Grand Vitara en ’n aantal aanbiedings uit China, sterk alternatiewe.
Die 2025 Tata Harrier is 4 605 mm lank, 2 131 mm breed en staan 1 718 mm hoog. Grondvryhoogte is ’n skaflike 205 mm. Die bagasieruim kan 445 liter laai en met die tweede ry sitplekke platgeslaan, vergroot dit tot 815 liter.
Die agterklap maak elektries oop en toe met die sleutel of vanuit die kajuit met ’n knoppie, en kan ook via ’n skakelaar op die agterdeur beheer word. Verder bied die Harrier soos getoets ook die funksie om dit met voetbewegings onder die agterste buffer oop en toe te maak.
Ons toetsmodel was in wit bakverf met ’n kontrasterende swart dak en swart 18”-allooiwiele, toegerus met 235/60R18-bande. Dit dra alles by tot ’n treffende voorkoms.
Kajuit en toerusting
Die topmodel Tata Harrier Fearless+ se ruim en gerieflike kajuit is omvattend toegerus met tegnologie en geriefsfunksies.
Die materiale en skakelaars in die kajuit vertoon en voel van goeie gehalte. ’n Praktiese en gerieflike toevoeging is die kopstutte wat ontwerp is om effens om die kop te vou. Ook opvallend is die gerief en ruimte vir agterste passasiers, met meer as genoeg been- en kopruimte selfs vir 6-voet-plus persone.
Blindings by die agterste syvensters bied privaatheid vir die tweede ry insittendes, terwyl lugventilasie in die B-pilare vir beter klimaatbeheer agter sorg.
Die voorpaneel is skoon en ergonomies uitgelê, met die uitsondering van die 12,3”-infotainment-raakskerm wat vreemd genoeg meer na die voorste passasier as die bestuurder gerig is.
’n 10,25”-digitale instrumentpaneel is standaard op alle Harrier-modelle, asook ’n aantal USB-A- en USB-C-poorte voor en agter.
Addisionele geriefsfunksies sluit in ’n elektriese panoramiese sondak, koordlose slimfoonlaaier, aparte beheerknoppies vir klimaatbeheer, koordlose verbinding via Android Auto en Apple CarPlay, asook sleutellose toegang en aansitfunksie.
Wat veiligheid betref, is die Tata Harrier omvattend toegerus met onder meer nuwe generasie ADAS-stelsels, insluitend Vlak 2-bestuurderhulp, sewe lugsakke en ’n 360°-kamerastelsel met parkeersensors rondom die voertuig.
Enjin en verrigting
Die Tata Harrier is toegerus met ’n 2.0-liter viersilinder-turbodieselenjin wat 125 kW en 350 Nm se piekkrag lewer. Krag word na die voorwiele oorgedra via ’n 6-gang outomatiese ratkas met ratspane agter die stuurwiel.
Die ratkas bied drie ritmodusse, naamlik City, Sport en Eco, en die Harrier Fearless+ is ook toegerus met ’n beperkte gly-ewenaar en ewenaarslot. Die rit- en terreinfunksies word beheer via ’n ronde terreinbeheerknop in die middelkonsole tussen die voorste sitplekke.
Alhoewel die ratkas slegs ses verhoudings het, is die kombinasie met die 2.0-liter turbodiesel goed gebalanseerd vir sterk kraglewering, goeie inratversnelling en aanvaarbare brandstofverbruik.
Brandstofverbruik word amptelik aangegee as 6,6 ℓ/100 km, maar ons het tydens meer as 1 200 km se toetsry in ’n gemengde siklus (dorp-, plaaspad- en ooppadry) ’n gemiddelde van 6,1 ℓ/100 km behaal.
Hantering en paddinamika
Op die pad hanteer die Harrier gemaklik en padvas, met die onderstel en veerstelsel wat vertroue inboesem. Op die oop pad is die kajuit relatief stil en die rit gemaklik.
Op grondpad, insluitend sinkplaatgedeeltes, het die veerstelsel (McPherson-stutte voor en kronkelvere agter) ongelykhede goed geabsorbeer. In die geheel het die Harrier beter presteer as verwag, met verrassend goeie rygehalte, veral op grondpaaie, deels danksy die 18”-wiele en 60-profielbande.
Opsomming
In die geheel bied die nuwe Tata Harrier 2.0TD Fearless+ outomaties ’n goeie mengsel van moderne, sportiewe voorkoms, ’n ruim en goed toegeruste kajuit, en ’n ekonomiese turbodieselenjin met lewendige verrigting.
Gekombineer met goeie padgedrag behoort die Harrier aan die meeste gesinne se vereistes vir ’n SUV in hierdie segment te voldoen.


