’n Begeerlike koets vir die beton oerwoud
Die nuwe Lexus GX deel ’n platform met Toyota se Land Cruiser Prado, maar waar die Prado meer gefokus is op die gewone gebruiker, word die Lexus luukser verpak en toegerus vir die kliënt wat meer ingestel is op styl en luuksheid.
Een van die kenmerke wat die GX van sy Prado-neef onderskei, is die aandrywingstelsel. Anders as die Prado, wat ook diesel-aandrywing gebruik, het Lexus gekies om die GX slegs met ’n turbo-aangejaagde petrolenjin toe te rus. ’n Hibriede kragbron is blykbaar op die kaarte vir later.
Ons toetsmodel was die GX 550 SE-model in pragtige wit afwerking en was toegerus met die kragtige V6 3,4 liter turbo-petrolenjin, soortgelyk, maar met effens minder krag as die enjin wat diens doen in die groter Land Cruiser 300 en ook die basis vorm vir die enjin in Toyota se GR Hilux-bakkie wat aan die uitmergelende Dakar-woestynwedrenne deelneem. Die enjin se 260 kW en 650 Nm piekkrag sorg vir wakker verrigting in die Lexus GX. Aandrywing na al vier wiele is danksy ’n seepgladde 10-spoed outomatiese ratkas.
Terwyl die ekstra krag heerlik is vir vinnige verbysteek, kom dit teen ’n premie in brandstofverbruik. Ons toetsmodel het op oop pad rondom 12 L/100 km gebruik en in stadsverkeer het dit gestyg tot ’n gemiddelde verbruik van net onder 14 L/100 km. Ons het nie die GX 550 SE in 4x4-toestande getoets nie en kon ook nie daarmee sleep nie.
Afwerkingsvlakke
Lexus SA het twee afwerkingsvlakke plaaslik beskikbaar gemaak.
Die meer praktiese en veldry-gerigte 5-sitplek Overtrail-model het ’n voorkoms wat daarby pas en kom onder meer met ’n dakrak, sleepstang en vasgeboude kanttrappe. Kleiner 18”-wiele en veldrybande is meer geskik vir 4x4-gebruik, en die Overtrail is ook toegerus met al die toerusting en 4x4-stelsels wat daarvoor benodig word, soos onder meer Toyota se bekwame MTS (Multi-Terrain Select)-stelsel wat Crawl-modus insluit, asook middel- en agtergemonteerde ewenaarslotte.
Die tweede, luukser model in SE-gewaad bied sewe sitplekke in ’n luuks beklede ruim kajuit wat onder meer ’n 21-luidspreker Mark Levinson-klankstelsel insluit. Elektriese kanttrappe wat outomaties in- en uittrek wanneer die deure oopgemaak word en 22”-allooiwiele rond die SE se luukse voorkoms af.
Steeds ’n rasegte 4x4 met laestrek, is die luukser GX 550 in SE-afwerking egter nie met hardebaard 4x4-toerusting soos MTS en Crawl-modus toegerus nie. ’n Sleepstang is ook nie ingesluit nie.
Anders as die Prado, kon die GX 550-modelle nie toegerus word met ’n bykomende brandstoftenk nie en, gegewe die verbruik, sal die 80 liter-standaardtenk ’n reikafstand van ongeveer 450 kilometer bied voordat dit hervul moet word.
Binne
Die GX 550 SE se ruim, moderne kajuit is onmiskenbaar Lexus-luuks en omvattend toegerus sodat geen opsionele ekstras nodig is nie. Die kajuit vertoon modern, is luuks beklee met materiale van hoë gehalte en met kwaliteit vakmanskap afgewerk om elke rit spesiaal te maak vir insittendes.
Die volkleur-infotainment-raakskerm vertoon modern en bied Apple CarPlay- en Android Auto-koppeling. Die skerm se groot ikone werk intuïtief met gebruikersvriendelike interaksie.
Die kajuit bied gemaklike sitplek vir sewe insittendes in drie rye, terwyl die bagasieruim steeds genoeg plek het vir tasse en toerusting vir ’n wegbreeknaweek.
Op die pad was die Lexus GX 550 SE ’n heerlike ervaring om te bestuur. Ten spyte van die swaar lyf, was hantering gemaklik met goeie balans en greep, veral op teer. Die kragtige V6 turbo-petrolenjin het verbysteek teen ooppadspoed ’n plesier gemaak.
Ook het die stil, luukse en goed toegeruste kajuit gesorg vir ’n gladde en gemaklike rit, veral op teer. Die laeprofielbande het egter nie van sinkplaatgrondpad gehou nie, maar die uitstekende veerstelsel het dit goed hanteer.
Ons het nog nie met die Overtrail-weergawe gery nie, maar vermoed dat dit die keuse van meeste kopers sal wees. Sandton en Constantia se hoë-hak brigade sal egter meer van die luukser GX 550 SE hou.
Ons is van mening dat Lexus met die nuwe GX-reeks ’n ernstige bedreiging inhou vir onder meer Land Rover se Discovery.


