’n Indrukwekkende verrassing uit China

2025 Jaecoo J7 SHS PHEV
Dirk Gallowitz
Die plaaslike motornywerheid is onder geweldige druk om kop bo water te hou. Daar is etlike faktore wat bydra tot swak of bykans geen ekonomiese groei nie, met onlangse gerugte dat sommige gevestigde motormaatskappye begin het met noodgedwonge afleggings. Dit terwyl al hoe meer handelsname uit die Ooste, Jaecoo ingesluit, die plaaslike mark bombardeer met aantreklike waarde-vir-geld-produkte in gewilde marksegmente – iets wat ’n groot bedreiging vir gevestigde handelsname se volhoubaarheid kan inhou.
Die Jaecoo J7 SHS PHEV (plug-in hybrid-electric vehicle) is juis een van hierdie modelle.
Voorkoms en ontwerp
Die 2025 Jaecoo J7 SHS PHEV tref die oog met ’n voorkoms wat sekere Range Rover-sportsnutsvoertuie doen herinner. Die prominente sierrooster met blink silwer vertikale chroomontwerp bring ’n intimiderende teenwoordigheid waar dit ook al beweeg of parkeer. Die pragtige 19” aluminium sierwiele komplimenteer die klassieke, maar tog moderne bakontwerp. Die LED-ligband wat die twee agterligte verbind, verlig ook die “Jaecoo”-letters in die middel van die agterklap.
Kajuit en toerusting
Wanneer jy in die ruim kajuit klim, word jy begroet deur ’n verrassende luukse binneruim met sagte materiale en ’n weelderige atmosfeer. Die bekleedsel is gemaak van ’n leernamaaksel van hoë gehalte wat uitstekende vakmanskap en afwerking toon. Die groot panoramiese glasdak bring ekstra lig in die oorwegend swart, maar goed ingerigte kajuit.
Die elektries beheerde voorste sitplekke beskik oor verhitting en verkoeling, en die oulike stuurwiel bied op- en afbeweging sowel as uittrekverstelling, met skakelaars vir die meeste sleutelfunksies. ’n Rathefboompie, soortgelyk aan ’n flikkerligskakelaar-arm, is regs op die stuurkolom agter die stuur geplaas.
Die J7 PHEV is ’n toonbeeld van moderne kajuite wat toegerus is met ’n wye reeks van die nuutste tegnologies gevorderde veiligheid-, kommunikasie- en bestuurderhulptoerusting. Wat veiligheid betref, bied die J7 SHS PHEV onder meer agt lugsakke en ’n omvattende gevorderde bestuurderhulpstelsel (ADAS).
Alle klank-, kommunikasie- en SatNav-funksies, asook 360°-kamerabeelde en voertuig-, rit- en stelselinligting, word aangebied op ’n massiewe infotainment-skerm van 14,8”, perfek op die voorpaneel geplaas en intuïtief in gebruik. Verder is die 10,25”-digitale instrumentpaneel maklik leesbaar danksy skerp en skoon grafika.
Aandrywing, verrigting en paddinamika
Die Jaecoo J7 2025 SHS PHEV is toegerus met ’n kragtige en tegnologies gevorderde hibriede aandrywingstelsel wat ’n 1,5-liter 4-silinder turbo-petrolenjin kombineer met ’n elektriese motor geïntegreer in die slim ratkas. Die elektriese motor, aangedryf deur ’n 18,3 kWh hibriede battery, lewer 150 kW en 310 Nm piekkrag. Saam met die 1,5L turbopetrol-enjin is die totale kraglewering 255 kW en 525 Nm, uitstekend vir ’n SUV in hierdie segment.
Die gevolg is oombliklike versnelling sonder ’n donderende enjinklank en wieltol, wat ’n opwindende en verfynde ervaring bied. Die aandrywing voel oorheersend elektries, naatloos en boverwagting glad.
Die gemiddelde brandstofverbruik het ons verstom en is een van die sterkste redes om hierdie voertuig aan te skaf. Ons gemiddelde verbruik op die ooppad was 5,5 l/100 km, met stadsverkeer wat gewissel het tussen 1 en 1,5 l/100 km. Die J7 SHS PHEV se battery kan met AC of DC herlaai word. Die DC40 hibriede battery met ’n 40 kW kapasiteit kan by enige publieke herlaaistasie van 50 kW of meer van 30%-80% binne 20 minute herlaai word.
Opgesom
Die 2025 Jaecoo J7 SHS PHEV het ons behoorlik beïndruk. Die integrasie van die 1,5-liter turbopetrol-enjin met die gevorderde elektriese aandryfstelsel is indrukwekkend, en die uiters lae brandstofverbruik verras. Vorige Chinese voertuie met klein petrolenjins was swaar op brandstof en swak afgewerk, maar die Jaecoo J7 SHS PHEV bewys die teenoorgestelde.
Nie net is die kajuit modern, mooi ingerig en luuks afgewerk met uitstekende vakmanskap en kwaliteit materiale nie, die nuutste tegnologie werk ook intuïtief en maklik. Ritgehalte is uitstekend, selfs op swak paaie, met minimale enjin-, pad- en ritgeraas. Die naatlose oorgang tussen elektriese en petrol-aandrywing elimineer “range anxiety” volledig.
Met die omvattende waarborge wat Jaecoo bied, is eienaarskap byna probleemvry. Die Jaecoo J7 SHS PHEV se elektriese aandryfstelsel en hibriede battery behoort die voertuig se volle lewensduur te hou.
Die 2025 Jaecoo J7 1.5T SHS PHEV, soos getoets in September, kos om en by N$700 000, wat dit ’n uiters aantreklike waarde-vir-geld-opsie maak en waarskynlik die mees praktiese en bekostigbare gesins-SUV in die toekoms is.