’n Legende groet – lank lewe die Legend

2025 Toyota Hilux Legend 55
Dirk Gallowitz
Toyota het onlangs die Legend 55-model van sy topverkoper Hilux-bakkiesreeks bekendgestel. Hierdie spesiale model, gebou in Toyota se Prospecton-aanleg buite Durban, sal waarskynlik dien as die laaste weergawe van die huidige generasie Hilux wat in 2016 plaaslik gebuig is, voordat die heel nuwe Hilux in 2026 sy opwagting maak.
Toyota Motors het die eerste Hilux-bakkie in 1968 aan die wêreld onthul, met Toyota Motors SA wat sedert 2004, met die bekendmaking van die Legend 35, elke vyf jaar die Hilux in suider-Afrika met ’n spesiale Legend-model gedenk. Dink aan die Legend 40 in 2010, Legend 45 in 2015 en Legend 50 in 2020. Elke Legend-weergawe het ’n onuitwisbare impak gemaak en bygedra tot die ongekende sukses en gewildheid van die Hilux, wat vir baie jare as topverkoper bakkie gekroon is.
Oor die jare het verkooppryse van tweedehandse Legend-modelle bewys dat die spesiale bakkies hoog aangeslaan word deur Toyota-liefhebbers wat bereid is om heelwat hoër pryse as die sogenaamde markwaarde te betaal. Ons glo dat die Legend 55 ook hierdie pad sal loop. Vervaardiging van die Legend 55 het in Julie 2025 by die Prospecton-aanleg begin, met bakkies wat reeds ’n maand later by handelaars beskikbaar was.
Toyota het intussen die produksie van die huidige Legend-modelle gestaak, en kopers het nou slegs die keuse tussen die Raider of die Legend 55. Slegte nuus is egter dat die Legend 55 slegs in twee modelle beskikbaar is: die Xtra Cab en dubbelkajuit. Beide is egter beskikbaar in 4x2 of 4x4, met die keuse van ‘n 6-spoed handrat of 6-gang outomatiese ratkas.
Wat maak die Legend 55 spesiaal?
Die 2025 Hilux Legend 55 kry eksklusief twee spesiale bakleure: Sand Beige en Dark Green Mica. Verder word die Legend 55 as topmodel onderskei van sy mindere stalmaats met ’n glansswart Legend-sierrooster en ’n beskermplaat onder die voorbuffer. Agter die kajuit is ’n blinkswart rolstaaf met Legend 55-insignia, ’n sleepstang en ’n sluitbare meganiese roldeksel. Die laaibak is binne uitgevoer met ’n sterk rubberbedekking vir beskerming. Verder is die Legend 55 toegerus met nuut ontwerpte twee-kleur allooivellings, glansswart wielboë en etlike “Legend 55”-kentekens aan die buitekant.
Binne die kajuit is daar “Legend 55”-insignia op elke kopstut, sowel as rubbermatte en deurdrumpels met ’n klein “55 Anniversary”-kenteken op die middelkonsole. Andersins is die kajuit soortgelyk toegerus soos dié van die uitgaande Legend-model.
Enjin, verrigting en paddinamika
Die 2025 Hilux Legend 55 se bakwerk, leerraamonderstel, aandrywing en veerstelsel is steeds soos in die huidige generasie. Aandrywing word steeds voorsien deur die beproefde 2.8GD-6 turbodiesel (150 kW/500 Nm) en dieselfde 6-spoed handrat- of 6-gang outomatiese ratkas.
Die verrigting is onveranderd, net soos die legendariese vermoë in die veld en om te sleep. Die nuweling bied nie beter ritdinamika, hantering of ritgehalte as die uitgaande Legend-model nie. Die huidige generasie Hilux-bakkies is ook nie klasleidend wat betref ritgehalte en kajuitgerief nie en kan, soos enige leerraam-onderstel-bakkie, soms ongemaklik wees op slegte paaie indien daar geen vrag agter gelaai is nie. Dit alles is egter relatief onbelangrik, want vir die meeste bakkiekopers in Suid-Afrika is die Hilux ’n taai, betroubare, veilige en gerieflike voertuig vir gesin en werk, en boonop uiters bekwaam in die veld as dit ’n 4x4-model is.
Opsomming
Die huidige generasie Hilux is meer as 10 jaar oud, met ’n onderstel wat selfs ouer is. Tog wys verkope dat kopers steeds die Hilux begeerlik en bekostigbaar vind. Dit is dus ‘n reuse-pluimpie vir Toyota Motors SA dat die Legend 55 op gelyke voet met veel meer moderne bakkies plaaslik kan kompeteer en steeds relevant en begeerlik voel.
Lank lewe die Legend!