Nou ghrênd en luuks met plek vir sewe

2022 Hyundai Grand Creta
Dirk Gallowitz
Die vraag na sportnutsvoertuie neem wêreldwyd toe en ons soeke na waarde in hierdie segment neem ook drasties toe.
Hyundai Suid-Afrika ry baie suksesvol op hierdie golf en het vroeër vanjaar ’n nuwe, groter weergawe van sy gewilde Creta bekendgestel.
Die Grand Creta staan in ander dele van die wêreld as die Alcazar bekend, en beskik oor ’n langer asafstand as sy kleiner stalmaat, asook sewe sitplekke. Daar is ook ander verskille tussen hierdie twee modelreekse. Die vooraansig lyk dieselfde as dié van die Creta maar daar is ’n herontwepte agteraansig met ’n chroomstrook tussen die hoog gemonteerde agterligte wat die nuweling vir ons mooier op die oog maak as die gewone Creta. Ook die balans en simetrie van die groter en “ghrênder” nuweling is vir ons persoonlik net mooier.
Een van die belangrikste verskille tussen die Creta en die Grand Creta is die enjinkeuses. Die Grand Creta is beskikbaar met twee enjins, naamlik die tweeliterpetrol enjin uit die Tucson wat 117 kW teen 6 500 opm en wringkrag van 191 Nm teen 4 500 lewer, asook ’n 1,5 liter turbodiesel enjin wat 85 kW teen 4 500 opm en wringkrag van 250 Nm teen tussen 1 750 en 2 500 opm lewer.
Die petrol enjin bied die keuse tussen ’n hand- of outomatiese ratkas met ses gange elk terwyl die outomatiese sesgangratkas standaard toerusting vir die diesel-modelle is. Aandrywing na die pad is by beide modelle deur die voorwiele.
Twee spesifikasievlakke is beskikbaar, naamlik die Executive en die Elite. Die Executive bied die keuse van die hand- of outomatiese ratkas vir die petrolmodel terwyl die outomatiese ratkas standaard toerusting vir die petrol- en dieselweergawes van die Elite is.
Die Executive word met die volgende standaard kenmerke toegerus: allooivellings met 215/65 R 17-bande, handbeheerde lugversorging, ’n klankstelsel met ’n 8”-raakskerm, Apple Car Play en Android Auto asook ses luidsprekers, elektries verstelbare en invoubare buitespieëls, dakspore, ’n koordlose selfoonlaaier, kunsleerbekleedsel vir die sitplekke, met die tweede ry wat in ’n 60/40-verhouding verdeel word, en die derde ry in ’n 50/50-verhouding, en spoedbeheer.
Voorkoms
Ons het onlangs die 1,5 liter turbodiesel vlagskip van die reeks in Elite afwerking vir ’n week gehad, wat bykomend tot die Executive model ook die volgende luukshede insluit: allooivellings met 215/55 R 18-bande, elektries verstelbare en geventileerde voorsitplekke, sakke en opvoubare tafeltjies in die rugleunings van die voorsitplekke, outomatiese klimaatbeheer, ’n 10,25” hoë definisie digitale instrumentepaneel, gordyne vir die agterste kantvensters, verdonkerde glas, ’n elektroniese parkeerrem, ’n aansitknoppie en ’n elektriese sondak.
Die Elite bied ook ’n keuse van verskillende bestuurs/rit modusse , naamlik Eco, Sport en Normaal terwyl die vastrapbeheer ingestel kan word om die beste moontlike klouvermoë in sneeu, modder of sand te verseker.
Die kajuit is ruim en met die pragtige tweekleur afwerking – ons toetsmodel het wit en swart treffend gekombineer – help om ’n gemaklike ambiaans te skep. Die tweede ry sitplekke het oorgenoeg been-, skouer- en kopruimte en selfs die derde ry se twee sitplekke kan groterige kinders gerieflik akkommodeer.
Met die derde ry in plek is die laairuimte egter baie knap met slegs 180 liter se pakplek. Maar wanneer dit platgevou word, is daar egter 1 670 liter laairuimte beskikbaar gemaak.
Wat aktiewe en passiewe veiligheid vir passasiers betref, kom die Grand Creta standaard toegerus met voorste-, kant- en gordynlugsakke, ABS-remme met noodremhulp en elektroniese remkragverspreiding, stabilitieitsbeheer, wegtrekhulp, ‘n trukamera, ligdiode-kopligte wat outomaties aan- en afgeskakel word en ligdiode-dagryligte. Die Elite bied ook ligdiode-misligte en parkeersensors voor en agter by.
Op die pad
Die Grand Creta se asafstand is met 15cm gerek ten einde sewe sitplekke te kan hanteer, maar dit dra ook by tot ’n sagter rit. Ons het die 1,5 liter turbodiesel uiters bekwaam op die sand en grondpaaie bevind met genoeg krag en ‘n uiters genotvolle rit selfs toe ons die ratkas na “Sand”-modus oorgeskakel het.
Die veerstelsel het geensins die ongelyke sinkplaatgedeeltes na die sitplekke laat deurkom nie.
Op die ooppad was verbysteek maklik en die turbodiesel se 250 Nm wringkrag en juweel van ’n 6-spoed ratkas, het verbysteek teen hoofwegspoed heerlik gemaklik gemaak. Na ’n week en ongeveer 1 300km in die Grand Creta, was ons aangenaam verras met ’n uitstekende gemiddelde brandstofverbruik van slegs 6,5 liter/100km.
Die 2022 Grand Creta is uiters kompeterend geprys teen sy kompetisie wat onder meer die VW T-Cross, Mazda CX-3, Ford EcoSport, Toyota Corolla Cross en Suzuki Vitara insluit.
In meeste gevalle is die Grand Creta egter beter toegerus in standaard gewaad en net die Grand Creta bied kopers die voordeel van sewe sitplekke. Dan is daar natuurlik ook die segmentbeste Hyundai waarborg van 7 jaar/200 000 km as uitklophou. Voeg daarby die nou gerekende Hyundai betroubaarheid en diensplan van 4 jaar/60 000km vir verdere gemoedsrus. Die slotsom is dat die Grand Creta ’n uitstekende waarde-vir-geld aan voornemende kopers bied.