Nuwe Qashqai stel ’n nuwe standaard

2022 Nissan Qashqai
Dirk Gallowitz
Nissan Suid-Afrika het onlangs die langverwagte derde generasie van sy gewilde kompakte nutsvoertuig, die Qashqai, plaaslik bekendgestel. Dit ná die model reeds in 2020 in Europa vrygestel is.
Die Qashqai word allerweë erken as een van die pioniers in sy segment en met die derde generasie wat nuwe standaarde stel vir bougehalte, standaard toerusting, ritgehalte en ook tegnologiese gevorderdheid, gaan die nuweling verder bou aan sy ikoniese reputasie.
Die 2022 Qasqai se ontwerpfilosofie bou voort op Nissan se nuwe generasie stilering vir sy nutsvoetuie. Die korporatiewe identiteit is duidelik sigbaar en met ’n vars, moderne en sportiewe voorkoms trek die 2022 Qashqai ongetwyfeld aandag.
Die nuwe Qashqai se impossante V-Motion sierrooster, smal LED matrix hoofligte en nuwe “boomerang” dagryliggies dra ook by tot ’n treffende voorkoms.
Die derde generasie Qashqai word gebou op die Renault/Nissan/Mitsubishi alliansie se CMF-C platform wat die resultaat is van die mees gevorderde en hoogs tegnologiese argitektuur in die motorindustrie. Gevolglik bied die nuwe Qashqai, behalwe moderne en sportiewe stilering, ook uiters gevorderde veiligheids- en paddinamimiese eienskappe wat nuwe standaarde vir sy segment stel.
Nissan bied die 2022 Qashqai aan in ’n baie aantreklike omvattende pakket wat sportiewe verrigting, goeie brandstof ekonomie, luukse rygerief en gevorderde aktiewe en passiewe veiligheidseienskappe deur middel van die nuutste Nissan Intelligent Mobility (NIM) tegnologie, insluit.
Die nuweling het ook die strawwe EuroNcap veiligheidsbots toetse geslaag met ’n 5-ster gradering.
Die 2022 Qashqai is byvoorbeeld toegerus met Nissan se bekroonde “Autonome Bestuur Vlak 1 (Nissan ProPILOT), “Predictive Front Collision Warning” asook ’n stelsel wat die voertuig verhoed om uit die baan te beweeg sonder om die flikkerligte te gebruik.
Nissan SA het die nuwe Qashqai in 3 afwerkingsvlakke plaaslik beskikbaar gestel, met al drie weergawes wat met dieselfde 1,3 liter viersilinder petrolturbo enjin krag na die voorwiele stuur.
Die Qashqai 1.3T Visia MT intreemodel se enjin lewer die minste krag met 96kW/240Nm se piekkragte en is beskikbaar slegs met ‘n 6-gang handratkas.
Beide die middelvlak Qashqai 1.3T Acenta en die topmodel 1.3T Acenta Plus se enjin lewer 110kW/250Nm en stuur die krag na die voorwiele met behulp van Nissan se indrukwekkende nuwe “Xtronic” CVT ratkas. Die ratkas is so gestel dat die ratwisseling ervaar word soortgelyk aan ‘n normale outokas. Tydens ons bekendstellingsrit in die mooiste Kaap het ons ‘n indrukwekkende brandstof verbruik van gemiddeld 6,8l/100km behaal in ‘n gemengde siklus van stads- en snelwegry. Ritgehalte, paddinamika en die goed geisoleerde kajuit het aangenaam verras.
Tydens die bekendstelling kon ons net met die topmodel Acenta Plus ry wat sekerlik die segmentleier moet wees wat betref luukse afwerking en hoë vlakke van standaard toerusting.
Daar is, om maar net ’n paar te noem onder meer Nappa-leerbekleedsel, elektriese beheerde voorste sitplekke met verhitting en masseerfunksies, ’n leeroorgetrekte sport stuurwiel met skakelaars, ’n koordlose laaiblad vir slimfone, dubbel sone klimaatbeheer en intelligente LED hoofligte.
In geheel is die kajuit ’n kragtoer in gehalte en afwerking met pragtige stikwerk, sagte oppervlaktes en skakelaars wat gehalte uitstraal.
Die pryse van die die nuwe Nissan Qashqai mag op die oog af hoog lyk, maar die waarde is opgesluit in ’n uiters goed toegeruste, hoogs tegnologiese, indrukwekkende pakket.