Nuwe Toyota Land Cruiser FJ bekendgestel
Die kompakte nuweling, bekend as die Land Cruiser FJ, fokus op avontuurgerigte veldry vir ’n nuwe generasie en moet nie verwar word met die FJ Cruiser van ’n paar jaar gelede nie. Die heel nuwe Land Cruiser FJ, wat aansluit by die bestaande Land Cruiser 300-, Land Cruiser Prado- en Land Cruiser 70-reeks in die Toyota-stal, is ontwerp en ontwikkel met die filosofie van “Vryheid en Vreugde” as konsep.
Ontwerp
Die Toyota Land Cruiser-nalatenskap is in 1951 met die eerste BJ-model geloods en het oor die jare gegroei tot een van die mees gerespekteerde voertuigmodelreekse ter wêreld.
Die nuwe Land Cruiser FJ is met dieselfde filosofie as kern ontwerp ten einde ’n nuwe generasie kopers ook die gees van vryheid te laat ervaar in die soeke na buitelug- en veldavonture, en pas die nuweling dan ook perfek in by die res van Toyota se ikoniese en hoogs bekwame veldrymodelle.
Juis daarom is die Land Cruiser FJ gebou op Toyota se beproefde leerraamplatform en IMV-argitektuur, wat ook diens doen in ander outentieke Land Cruiser-modelle. Die onderstel en platform is omvattend verfyn ten einde dieselfde betroubaarheid, sterkte en rigiditeit te bied wanneer veeleisende uitdagings in die veld aangedurf word. Vir dié doel is onder meer ekstra strukturele versterking en uitgebreide gebruik van hoësterkte staal ingespan. Verder dra die kort asafstand van 2 580 mm ook by tot beter stabiliteit en rygerief.
Die nuwe FJ is 4 575 mm lank en 1 855 mm breed. In vergelyking met die Land Cruiser Prado is die nuwe FJ 350 mm korter en 125 mm smaller. Die asafstand is 270 mm korter as dié van die Prado. Die resultaat is ’n draaisirkel van 5,5 m, wat vir uitstekende manoeuvreerbaarheid in die veld en knap parkeerruimtes in die stad sorg.
Voorkoms
Van buite vertoon die Land Cruiser FJ modern en, ten spyte van ’n robuuste, vierkantige ontwerp, word die onbetwiste klassieke Land Cruiser-trekke beklemtoon met sterk horisontale lyne en hoeke, uitgeboude modderskerms en ’n wye voetspoor. Die boksagtige ontwerpelemente, wat deur ’n dobbelsteenmotief geïnspireer is, bring ’n avontuurlike karakter wat ’n jonger generasie sal aantrek.
Die Land Cruiser FJ se neus trek aandag met ’n prominente Toyota-erfenis-sierrooster, wat aan weerskante beklemtoon word deur vierkantige LED-kopligte, asook duursame glyplate en prominente modderskermdetail.
Van agter beskou, onderstreep die nuweling klassieke veldry-ontwerpkenmerke met ’n agterdeur waarop die noodwiel gemonteer is, wat prakties sywaarts oopmaak, en agterligte wat hoog langs die kant gemonteer is om die robuuste voorkoms te beklemtoon.
Van die kant beskou staan die Land Cruiser FJ VX, soos ons bestuur het (daar is ook ’n goedkoper GX-weergawe), hoog bo 18”-allooiwiele wat met 265/60 H/T-bande toegerus is. Die wiele lyk nietemin effens klein vir die bak, maar werk uitstekend op die pad en in die veld.
Swart dakrelings, verwyderbare sytrappe, beskermende bekleding en kort aan- en afryhoeke rond die nuweling se doelgemaakte voorkoms af.
Die Land Cruiser FJ word tans verkoop in ’n reeks opvallende buitekleure, insluitend Platinum White Pearl, Attitude Black, Ash Grey, Calcite Blue en Oxide Bronze.
Kajuit en toerusting
Binne bied die Land Cruiser FJ ’n praktiese en veelsydige kajuit wat as gemaklik modern beskryf kan word. Die voorpaneel is horisontaal uitgelê en die instrumentasie en skakelaars is maklik binne die bestuurder se bereik.
’n 7”-TFT-multi-inligtingskerm is netjies geïntegreer met die breë middelkonsole, en verskeie bergplekke is prakties en intuïtief uitgelê, terwyl die instrumentpaneel laag agter die stuurwiel geplaas is vir beter sigbaarheid vanuit die bestuurdersitplek.
Die Land Cruiser FJ bied sitplek vir vyf insittendes, met voldoende knieruimte vir die bestuurder en genoeg pakplek agter vir basiese naweekkamptoerusting.
Die GX-weergawe is beklee met duursame materiaalafwerking, terwyl die VX-topmodel sintetiese leerafwerking kry. Die binneruim is egter slegs in swart beskikbaar.
Enjin en verrigting
Die nuwe FJ word in beide GX- en VX-modelle aangedryf deur Toyota se beproefde, turbolose 2TR-FE 2.7-liter petrolenjin, wat ’n maksimum van 122 kW teen 5 200 r/min en 245 Nm teen 4 000 r/min lewer. Aandrywing geskied deur ’n kompakte en doeltreffende sesgang-outomatiese ratkas.
Danksy Toyota se Super ECT-tegnologie is die aandryfstelsel spesifiek gekalibreer vir gladde laespoed-rybaarheid, verbeterde afdraandebeheer, versnellerreaksie en uitstekende veldry-vastrap, asook gemaklike padry.
’n Korter eerste rat verbeter klimvermoë en vastrap, terwyl ’n langer sesde rat brandstofverbruik tydens langafstandreise verbeter. Brandstofverbruik word amptelik op 10,7 ℓ/100 km (gekombineerde siklus) aangedui.
Rit, dinamika en veldry
Die Land Cruiser FJ, soos sy stalmaats, is ontwerp om uiteenlopende oppervlaktes met gemak te hanteer en word ondersteun deur ’n veringstelsel wat bestaan uit ’n hoëgemonteerde dubbele A-arm-voorvering en ’n vierskakel-soliede agteras met ’n laterale stang.
Toyota se ingenieurs het ook gesorg dat ritverfyning en NVH (geraas, vibrasie en hardheid) aansienlik verbeter is, met bykomende aandag aan dempingsmateriaal, isolasie en aerodinamika vir ’n stiller en meer verfynde kajuitervaring.
Die FJ gebruik ’n deeltydse vierwielaandrywingstelsel met H4- en L4-modusse om sand, modder, rotse en ander lae-grypoppervlakke met vertroue te hanteer. Danksy LC Prado-afgeleide voorste aandrywingskomponente en ’n ligte Fortuner-gebaseerde skroefas word duursaamheid, verpakking en werkverrigting verder geoptimaliseer.
Veldrytegnologie sluit ’n agterewenaarslot, afdraandehulpbeheer (DAC), wegspringhulp (HAC), ECT tweede modus en voertuigstabiliteitsbeheer in.
GX of VX
Ongeag GX of VX bied beide weergawes sewe lugsakke, voertuigstabiliteitsbeheer, afdraandehulp, ’n volgrootte noodwiel en ’n 8”-multimediaskerm met ses luidsprekers.
Die grootste verskil lê in veiligheid- en tegnologiespesifikasies. Die VX is toegerus met Toyota Safety Sense 3.0, wat ’n reeks gevorderde bestuurderbystandstelsels insluit, terwyl dit nie op die GX beskikbaar is nie. Die VX het ook ’n blindekolmonitor.
Opsomming
Volgens Toyota is die teikenmark avontuurlustige, jonger kopers (meestal tussen 30 en 40 jaar) wat vryheid, verkenning en outentieke ervarings soek.
Met die Land Cruiser FJ open Toyota ’n nuwe, meer bekostigbare toegangspoort tot die Land Cruiser-familie. Selfs die ouer garde, soos die uwe en baie voormalige Land Cruiser-eienaars, sal waarskynlik in die nuweling belangstel. Gegewe die prys van die nuwe FJ sal baie dit weer kan bekostig om ’n Land Cruiser aan te skaf en die filosofie van “Vryheid en Vreugde” opnuut te ervaar.


