Pikante sedan en mooigemaakte luikrug bekendgestel

Hyundai se nuwe Grand i10
Dirk Gallowitz
Hyundai SA het onlangs sy sakpas klein i10 verfris en boonop vir ’n verrassing gesorg toe hulle ook ’n pikante sedan weergawe van die gewilde stadskruipertjie by die reeks ingesluit het.
Die uitgaande Grand i10 was heel gewild. Met Hyundai betroubaarheid, ’n ruim kajuit, lae brandstofverbruik en beter standaard toerusting as meeste van sy meedingers, was die klein Koreaan ’n aantreklike opsie in sy segment. Verder het Hyundai se 7 jaar/200 000km waarborg en 5 jaar/150 000km diensplanne asook ’n uitgebreide handelaarsnetwerk aan kopers gemoedrus gebied.
Hyundai spog dat die klein i10 wêreldwyd minder as U$1 per motor kos in terme van eise teen hulle vervaardigerswaarborg.
Die 2023 Hyundai Grand i10 word plaaslik in luikrug en vir die eerste keer ook as sedan bekendgestel.
Wat’s nuut?
Wel, die nuweling se vooraansig lyk aansienlik beter as by die uitgaande model. Die luikrug en sedan lyk identies van voor beskou met die sierrooster se breë “glimlag” wat die twee hoofligte verbind. Onder in die buffer is ’n groot luginlaat wat aan die hoeke twee gebuigde strepe as LED dagryliggies vertoon.
Aan die agterkant word die agterligte met ’n rooi staaf verbind wat netjies en modern vertoon.
Die intree1.0 liter Motion model loop op 14”-staalvellings wat netjies verdoesel word met skaflik ontwerpte plastiek wieldoppe, terwyl die duurder Fluid modelle met 15”-allooivellings toegerus is.
Met die sedan vertoon die kantprofiel nogal oulik, maar van agter beskou kan die stompstert-ontwerp opinies verdeel. Persoonlik lyk dit vir my nogal heel parmant.
Die sedan is volgens Hyundai so 18cm langer as die luikrug om te sorg dat die kattebak pakplek van 360 liter bied wat nagenoeg 42 liter meer is as in die luikrug.
Kajuit en toerusting
Die 2023 Hyundai Grand i10 word soos met alle Hyundai passasiervoertuie, baie goed toegerus self in standaard weergawe. Soos te wagte, is die duurder Fluid beter toegerus as die intree Motion weergawes.
Terwyl die intree modelle met ’n klein raakskerm in die voorpaneel kom en USB sokke voor asook parkeergonsers agter, word die topmodel Fluid ondemeer standaard addisioneel toegerus met ’n groter raakskerm, tru-kamera agter, kleurgepaste kantspieëls wat verhit en elektries kan wegvou, asook agter sitplekke wat in twee dele kan platvou.
Beide weergawes het elektriese vensters, maar slegs die Fluid kom met ABS remme.
Ook ’n leeroorgetrekte stuurwiel, lugversorging, outomatiese hoofligte, en spoedbeheer is deel van die lys standaard toerusting in die Fluid. Die aangename kajuit is verbasend ruim en bied gemaklik sitplek aan vier volwassenes. Afwerking, gegewe die prys, is klasleidend.
Enjin en verrigting
Hyundai SA het die luikrug Grand i10 in drie werrgawes bekend gestel, naamlik die intree Motion met ’n 1.0 liter 3-silinder petrolenjin (49kW en 94Nm) wat deur die voorwiele aangedryf word danksy ’n 5-spoed handratkas. Die luukser Fluid weergawe het ’n 1.0 liter enjin en 5 spoed handratkas.
Daar is ook ’n luikrug Motion weergawe toegerus met ’n 1,2 liter 4-silinder petrolenjin (61kW en 114Nm) met ’n 4-gang outomatiese ratkas beskikbaar.
Die nuwe Hyundai Grand i10 sedan is beskikbaar in twee weergawes wat beide met ’n 1,2 liter 4-silinder petrolenjin (61kW en 114Nm) toegerus is. Al twee modelle is slegs in die duurder Fluid afwerking te koop, maar kopers kan kies tussen die Grand i10 Fluid sedan met ’n 5-spoed handratkas of die 4-gang outomaties.Daar is ook ’n Grand i10 1,0 liter Motion Cargo beskikbaar. Brandstofverbruik by die sedan wissel tussen 5,5 en 5,7L/100km.
Rit en hantering
Ons het die nuwe Grand i10 in beide luikrug en sedan weergawes op die pragtige landelike agterpaaie van die Kaapse noordelike voorstede en tussen die groen Bolandse plase beproef.
Padgeraas is goed gedemp in die kajuit en stuurgevoel is lig, maar dis soos dit hoort in hierdie segment.
Ratskakeling is verbasend goed met die handrat, terwyl die outokas goed met die enjintoere gepas is vir gladde skakeling.
Wat wel beïndruk het is die vasvoetigheid van die klein Koreaan selfs toe ons met ’n lastige dwarswindgekonfronteer is. Die Grand i10 bied veel beter stabiliteit teen hoërige spoed as enige van sy direkte kompetisie.
Hierdie is die ideale eerste koper motortjie wat goeie waarde bied, suinig aan die brandstof suig en beter as meeste van die kompetisie toegerus is.
Verder is die koste van eienaarskap danksy Hyundai se waarborg, diensplanne en goeie inruilwaarde baie aantreklik.
Ons keuse is die sedan weergawe met die sterker enjin.