Pretwaentjie vir avontuurlustiges

2024 Suzuki Jimny 1.5 GLX 5-deur Allgrip
Dirk Gallowitz
Suzuki se 3-deur Jimny het sedert sy bekendstelling ’n gewilde pretwaentjie geword met byna n kultus status onder avontuurlustiges en veral diegene wat die agtergrondpaaie in styl en met ’n relatief bekostigbare 4x4 wil gaan verken.
Dit blyk dat die jonger generasie, maar ook ouer garde wie steeds jonk van gees is, aanklank by die klein Jimny vind.
Terwyl die kort as-afstand en 3 deure vir ’n oulike voorkoms sorg, is die gebrek aan passasierspasie en pakplek grootliks die rede dat die Jimny nie op die aankooplys van klein gesinne is nie.
Terwyl die nuweling nie die eerste lang as-afstand Suzuki Jimny is nie – die eerste was die LJ81 – is die nuweling die eerste 5-deur model in die meer as 50 jaar van die Jimny se bestaan.
Suzuki het verlede jaar die vierde generasie 5-deur weergawe van die gewilde Japanees plaaslik bekendgestel en ons het dit onlangs vir ’n week bestuur.
Voorkoms en ontwerp
Die kompakte vierkantontwerp met skerp, regaf hoeke is steeds daar en die neus en agterkant is, benewens ’n paar kosmetiese veranderinge, steeds onmiskenbaar Jimny.
Die as-afstand is egter gerek om die Jimny 340 mm langer te maak en twee ekstra deure is ingevoeg om wat voorkoms betref, selfs meer treffend te wees. Waar die 3-deur model oor die algemeen by meeste mense as “oulik” beskryf word, sal die langer 5-deur selfs groter aanklank vind. Die langer model kan selfs, wat voorkoms betref, beskryf word as ’n “baba” Mercedes G-Klas.
Opvallend is die blink sierrooster van die 5-deur model en terwyl dit aandag trek en dalk meer gesofistikeerd vertoon, is die 3-deur se kleurgepaste weergawe dalk meer prakties in die veld.
Kajuit en toerusting
Danksy die ekstra lengte is die binnekant die grootste verbetering van die 5-deur weergawe. Die gevolg is groter spasie vir agterste insittendes en veel meer laairuimte (126 liter meer), terwyl die agterste sitplekke ook afsonderlik platgeslaan kan word. Met sitplekke plat is daar ‘n platlê oppervlak wat as kampbedtjie kan dien en dit bied dan ’n totale laaispasie van 1 113 liter.
Die kajuit is prakties uitgelê met materiale en afwerking wat stewig voel en goed vertoon. Ons topmodel GLX weergawe bied ’n leeroorgetrekte stuurwiel wat ook skakelaars vir die foon, klankstelsel en spoedbeheer bied.
Die GLX het ’n groter 9” infotainent raakskerm as die intree GL model (7”) en bied koppeling via Apple CarPlay en Android Auto asook ’n USB koppelpunt en twee 12V laaipunte (voor). Die GLX is ook toegerus met ’n tru-kamera en agterste parkeergonsers.
Die Jimny 5-deur gee gemaklik sitplek aan vier volwassenes met die sitplekke wat goeie ondersteuning bied.
Enjin en verrigting
Aandrywing is danksy dieselfde 1,5 liter viersilinder (K15B) petrolenjin wat in die 3-deur weergawe diens doen. Maksimum kraglewering is 75 kW teen 3 000 rpm met 130 Nm piek wringkrag wat teen 4 000 rpm beskikbaar is. Aandrywing van die topmodel GLX Allgrip Pro soos ons getoets het, was na al vier wiele met behulp van ’n 5-spoed handratkas.
Die GLX modelle is ook beskikbaar met ’n outomatiese ratkas.
Amptelik word die brandstofverbruik aangegee as 6,3 l/100 km. Ons verbruik in ’n gemengde siklus wat ook sandpaaie met dik los sand ingesluit het, was 7,7 l/100 km na ’n totale afstand van bykans 800 km.
Die nuweling se langer lengte kom egter met ’n ekstra gewig van 105kg en die draaisirkel (11,4 m teenoor 9,8 m) is nou groter as met die 3-deur weergawe.
Opsomming
Die 2024 Suzuki Jimny 1.5 GLX AllGrip 5-deur is ’n welkome alternatief in die Jimny stal. Die langer as-afstand en effe ekstra gewig bied beter ritgehalte veral op grondpaaie en met 210 mm grondvryhoogte, beter beenruimte agter en die groter laaispasie, is die Jimny nou ook geskik vir gesinsuitstappies in die veld.
’n Groter petroltenk en ’n koordlose laaiblad is dalk oorwegings vir ’n opgegradeerde model in die toekoms.