Rehoboth mik vir Dorp van die Jaar-kroon
Rehoboth pronk onder vanjaar se benoemdes in Kwêla se Dorp van die Jaar-kompetisie.Lede van die publiek kan tot Vrydag om 12:00 vir Rehoboth stem deur die woord “Rehoboth” per SMS na 33157 te stuur. Elke SMS kos N$1,50 en nie meer as 30 stemme sal per selfoonnommer aanvaar word nie.
“Ek dink die dorp se unieke identiteit is reeds daar, dit sal ons net ‘n hupstoot gee [om Dorp van die Jaar te wen],” sê Rehoboth se burgemeester, Justin Coetzee.
Hy meen dit kan vir Rehoboth belegging meebring wat dié dorp se potensiaal vir ontwikkeling kan ontsluit. “Daar is so baie wat ontwikkel kan word. Ons het die warmwaterbronne, ‘n acacia-woud en baie grond wat ontwikkel kan word,” sê hy.
“Dit is unieke soort mense wat hier is waar die Basters en die Nama saamkom.”
Die voormalige burgemeester, Amanda Groenewaldt, beaam: “Ons is geëerd om Kwêla hier te hê om te ervaar wat Rehoboth spesiaal maak. Hierdie geleentheid stel ons in staat om ons dorp se warm gasvryheid, ryk kultuur en die pogings van ons toegewyde burgers, ten toon te stel.”