Uitstekende alternatief in ’n taai ekonomie
Jiangling Motors Corporation, oftewel afgekort as “JMC”, het laat in 2025 amptelik hul terugkeer tot die Suider-Afrikaanse mark gemaak met die vyfde generasie JMC Vigus-werksbakkie.
Ons was op 26 Maart 2026 by die bekendstelling waar die sesde generasie JMC Vigus dubbelkajuit-bakkie, met die leuse “Built for More”, aan ons getoon is. Ons was beïndruk met die bougehalte en hoë vlakke van standaardtoerusting wat ons daar gesien het.
Ons het middel April die geleentheid gebruik om hierdie bakkies, wat in China as die “Baodian” bekend staan, plaaslik deur ’n strawwe 4x4-roete te neem om ook die veldryvermoë van hierdie voertuie te toets.
JMC word in Suid-Afrika gerugsteun deur Salvador Caetano Auto SA, wat ook GAC Motor in Suid-Afrika versprei. Salvador Caetano is ’n groot motorgroep met ’n omvattende infrastruktuur wat oor drie vastelande en in meer as 40 lande met verskeie handelsmerke bedrywig is en jaarliks miljoene voertuie verkoop.
Terloops, in China se reusemark is daar een JMC-bakkie in elke vier wat verkoop word. Met miljoene eenhede wat oor die laaste 25 jaar verkoop is, is JMC se rekord vir volhoubaarheid en betroubaarheid sedert 2001 deeglik getoets en bewys in verskillende uitdagende toestande.
Deeglik getoets
Die nuwe JMC is ontwerp en omvattend getoets, ook plaaslik, in uiterste humiditeit, hitte, koue en hoogte bo seespieël in onder meer die Drakensberge, om diverse Suid-Afrikaanse omstandighede te kan hanteer.
Verder is die nuwe Vigus se bakwerk gebou met 68% hoësterkte staal en ’n onderstel wat JMC ’n “Fortress-Level Chassis” noem.
Aandrywing geskied danksy ’n 2.5-liter NB25 viersilinder turbodieselenjin wat 123 kW (@ 3 400 rpm) en 430 Nm (vanaf 1 600 tot 2 200 rpm) se piekkrag lewer. Krag word na die wiele gestuur via ’n sesgang-handratkas of ’n agtgang-outomatiese ratkas. Die topmodel 4x4 dubbelkajuit gebruik ’n BorgWarner-4x4-stelsel met ’n laestrekoordragkas. Die brandstofverbruik is volgens berigte meer as 30% beter as dié van bestaande dubbelkajuitbakkies wat tans in Suid-Afrika verkoop word, wat gevolglik laer verbruik impliseer.
Die nuwe JMC Vigus dubbelkajuit-bakkie is 5 335 mm lank, wat dit 15 mm korter maak as ’n Ford Ranger dubbelkajuit-bakkie.
Goed toegerus
Binne vertoon die kajuit modern met meer been- en kopruimte as die meeste ander dubbelkajuitbakkies wat tans in die plaaslike mark beskikbaar is.
Die kajuit is goed uitgelê en omvattend toegerus met onder meer ’n 9,0” digitale instrumentpaneel en ’n 12,8” volkleur-inligtingvermaak-raakskerm vir klank- en telekommunikasiekoppeling, asook voertuigdata, insluitend beelde van die tru-kamera. Die stelsel word deur parkeersensors ondersteun.
Die syfers vir die nuwe JMC Vigus se vragdra- en sleepvermoë is nog nie bekend nie, maar dit sal waarskynlik soortgelyk wees aan ander dubbelkajuitbakkies met vergelykbare kraglewering.
Tydens die bekendstelling het ons spesifiek aandag gegee aan die bougehalte, deurskarniere en hoe goed die deurseëls funksioneer. Ons was beïndruk.
Die nuwe sesde generasie JMC Vigus 2,5 TD dubbelkajuit 4x4 agtgang-outomaties het op die oog af die indruk geskep dat dit goed sal kan meeding met soortgelyke dubbelkajuitbakkies wat tans beskikbaar is. Ons en ander verteenwoordigende media was dit eens dat die nuwe model waarskynlik sowat N$800 000 behoort te kos, hoewel staatsubsidies die prys moontlik kan verlaag.


