Vars opgeknap, turbokrag en ’n beter prys

2026 Renault Kiger
-
Dirk Gallowitz

Renault SA het laat in 2025 sy opgeknapte Kiger-reeks bekend gestel, maar net met normaal geaspireerde enjins. Ons het onlangs die plaaslike bekendstelling bygewoon waar drie modelle nou met die 3-silinder 1.0-liter turbo-aangejaagde enjin toegerus is.

Goeie nuus vir plaaslike kopers is dat Renault SA die pryse van sekere modelle met tussen N$30 000 en N$41 000 verlaag het vergeleke met die uitgaande modelle.

 

Waar pas die Kiger in?

Plaaslik het die Kiger in 2021 die Sandero vervang en was dit heel gewild in die intreevlaksegment, waar dit meegeding het met onder meer die Nissan Magnite, Hyundai Exter, Mahindra XUV 3XO, Suzuki Fronx en Tata Punch. Almal bied goeie brandstofekonomie, betroubaarheid en praktiese gerief aan kopers in hierdie hoogs kompeterende segment van klein, kompakte en bekostigbare nutsvoertuie (crossovers).

In die vyf jaar sedert sy bekendstelling het die uitgaande Kiger meer as 28 000 eenhede plaaslik verkoop.

Met die opgeknapte Kiger wil Renault ’n hernude poging aanwend om verkope in hierdie segment, wat veral eerste motorkopers teiken, ’n hupstoot te gee. Juis daarom word die goedkoopste weergawe teen rondom N$220 000 beskikbaar gestel.

Ten spyte van die Kiger se gewildheid het Renault SA die modelreeks van sewe tot drie verminder en boonop die benaming van die afwerkingsvlakke verander. Weg is die Life-, Zen- en Intens-modelle, wat nou vervang word deur die Evolution-, Techno- en Iconic-weergawes, elk met hoër vlakke van standaardtoerusting.

 

Enjin

Tydens die onlangse bekendstelling was slegs die normaal geaspireerde Evolution met ’n 5-spoed-handrat en die 1.0-liter turbo Techno met óf ’n 5-gang-AMT óf ’n 5-spoed-handrat beskikbaar. Die luukser Iconic-weergawe kom eers later vanjaar na Suid-Afrika. Ons het tydens die bekendstelling slegs die middelvlak Techno AMT bestuur. Al die opgeknapte modelle word deur die voorwiele aangedryf.

Die 1.0-liter normaal geaspireerde 3-silinder-petrolenjin lewer 52 kW en 96 Nm, terwyl die 1.0-liter 3-silinder-turbopetrolenjin 74 kW en 160 Nm lewer.

Die Evolution- en Techno-handratweergawes se amptelike brandstofverbruik word as 5,0 L/100 km aangegee, terwyl die Techno AMT-model 6,0 L/100 km gebruik.

 

Wat het verander?

Van buite tref die opgeknapte Kiger met ’n meer moderne, sportiewe voorkoms. ’n Nuwe enjinkap, voor- en agterbuffers, skermplate voor en agter, asook nuwe LED-agterligte, val dadelik op. Die Kiger spog ook nou met die nuwe La Régie Renault-kenteken.

Ons Techno-toetsmodel se pragtige 16”-allooiwiele, nuwe LED-hoofligte, 205 mm grondvryhoogte en dakrelings (wat tot 50 kg kan dra) dra alles by tot die model se sportiewe voorkoms.

Renault SA het seker gemaak dat die opgeknapte intreevlak Evolution (slegs beskikbaar met ’n 5-spoed-handrat) steeds goed toegerus is en uitstekende waarde bied.

Dit beskik onder meer oor ’n 8”-raakskerm vir die klank-, kommunikasie- en inligtingstelsels, wat ook die tru-kamerabeelde vertoon en met slimfone kan koppel. Die multifunksie-stuurwiel bied satellietskakelaars vir klank en telefoon, saam met elektries beheerde vensters en kantspieëls.

Ons middelvlak Techno se kajuit is modern uitgelê en goed toegerus. Hoewel die swart-en-wit tweekleurafwerking dalk nie die mees praktiese is nie, vertoon dit baie aantreklik. Die harde plastiekafwerking op sekere panele lyk nie goedkoop nie en voel aanvaarbaar.

Ons toetsmodel het onder meer oor ’n verkoelde handskoenkas beskik om verversings koel te hou, asook sleutellose toegang.

Die kajuit is verbasend ruim. Ek kon my 1,85 m-lyfraam gemaklik agter myself laat sit, met Renault wat die agterste beenruimte tot 222 mm vergroot het. Die bagasieruim bied 405 liter pakplek.

 

Ritgehalte

Die Techno 1.0 turbo-model het beïndruk met hoe gemaklik dit op die Kaap se snelweë en agterpaaie presteer het, selfs met drie volwassenes aan boord. Die ratkas werk glad en skakel goed met die enjin se 74 kW en 160 Nm.

Die onderstel en veerstelsel is goed ontwikkel en bied ’n goeie ritgehalte vir hierdie segment, beide op teer en, verbasend genoeg, op grondpad. Pad-, enjin- en windgeraas is laag, wat bydra tot ’n aangename ry-ervaring. Die remstelsel wek ook vertroue met beter-as-verwagte greep en balans.

Die opgeknapte Kiger ontwikkel al hoe meer in ’n uitstekende alternatief vir jong en klein gesinne wat bekostigbare en ekonomiese vervoer vir daaglikse gebruik soek. Dit is ewe geskik vir die weeklikse skool- en werkroetine, maar ook vir naweekuitstappies op grondpaaie.

Ons meen Renault het die Kiger, veral die turbo-model, baie aantreklik geposisioneer vir ’n mark wyer as net die tradisionele intreevlak-koper.

Gaan loer gerus by jou naaste Renault-handelaar en neem die opgeknapte Kiger 1.0-liter turbo vir ’n toetsrit. Jy mag dalk meer as net aangenaam verras word.