Veel meer as net mooi

Chery Tiggo 8 Pro Max
Dirk Gallowitz
Die nuwer generasie Chery voertuie het Suid-Afrikaanse motorkopers soos ’n storm getref.
Dit het begin met die Tiggo 4 Pro van so ’n paar jaar gelede en die modelreeks het sedertdien uitgebrei met ’n Tiggo 7 Pro en later ’n Tiggo 8 Pro.
Terwyl meeste Suid-Afrikaners die Chinees-vervaardigde handelsmerk van ’n afstand beskou het met die verwagting dat betroubaarheid sal taan soos die smaak van afgekoelde kitsnoedels, het Chery besluit om met ’n wafferse goëlbal hul produkte met ’n 10 jaar/1 000 000 kilometer waarborg te onderskryf. Ja, jy het reg gelees – dit is 1 miljoen kilometer! Weliswaar met sekere voorwaardes, maar steeds iets wat die grense van die motorwêreld met myle versit.
Intussen het al meer Suid-Afrikaners nadergestaan, want die Chery motors is mooi op die oog, luuks afgewerk en uitstekend toegerus en boonop goedkoper as ’n gebruikte ekwivalent uit Japan wat Durban se hawe binnesluip en as ’n “grys” model en in ons buurlande (sommige ook op ons paaie) rondry.
Die Tiggo 8 Pro Max is die vlagskip van die Tiggo 8 Pro reeks met 7 sitplekke, en is in Augustus vanjaar plaaslik bekendgestel. Ons het dit in Oktober vanjaar vir ’n week kon toets.
Ontwerp en voorkoms
In grootte ding dieTiggo 8 Pro Max mee met onder meer die nuwe Mitsubishi Outlander, wat ons baie beïndruk het, Hyundai se jongste Tucson, en Volkswagen se Tiguan Allspace wat intussen uitgefasseer is.
Die nuweling is effe opgedateer in voorkoms vergeleke met die Tiggo 8 Pro en die sigbare is byvoorbeeld meer donker grys afwerking by die sierrooster en ligte voor, asook Crystal Matrix LED ligte voor en agter. Die Tiggo 8 Pro Max word onderskei met ’n dun “streeplig” wat dwars oor die wydte van die agterklap strek. Die Chery kenteken op die neus kan ook “verlig” word. Agter is daar nou vier uitlaatpype om die nuweling se kragtiger enjin te komplimenteer.
Kajuit en toerusting
Die Tiggo 8 Pro is reeds indrukwekkend in afwerking en toerusting binne die kajuit en soos dit met meeste opgraderings, is die veranderinge min met klem op verbetering.
In die kajuit van die 8 Pro Max is dit ook die geval met klem op veral meer en beter tegnologie. Die digitale infoskerm en instrumentepaneel is effe vergroot na 12,3”met opgedateerde sagteware, terwyl die gebruik daarvan makliker en meer intuïtief gemaak is, ook met die gebruik byvoorbeeld van Bluetooth, Apple Carplay en Android Auto. Die bogemiddelde SONY klankstelsel verdien ’n pluimpie.
Ergonomie is ook verbeter om ’n luukser ambiaans in die kajuit te skep. Die sitplekke is steeds pragtig luuks in leer beklee en die materiale wat in die kajuit gebruik word se tasbare en visuele gehalte is baie goed. Die sitplekke sit gemaklik en daar is genoeg spasie vir die eerste en tweede ry insittendes, maar die derde ry se beenspasie is effe knap en eintlik meer geskik vir kinders.
Die middelkonsole en ratkierie is ook vernuwe en die koordlose laaiblad laai nou teen ’n kragtiger en vinniger 50mA.
Verskeie veiligheidstelsels asook die algehele bougehalte van die Tiggo 8 Pro Max is verbeter.
Enjin en verrigting
Die Tiggo 8 Pro Max is toegerus met ’n nuwe 2.0 liter 4-silinder turbo-petrol enjin (die Tiggo 8 Pro behou die bestaande 1.6-liter turbo-petrol kragbron) en maksimum kraglewering word aangegee as 187 kW en 390 Nm. (Daarom die 390T kenteken op die agterklap). Aandrywing geskied na die voorwiele met behulp van ’n 7-gang dubbelkoppellaar ratkas. Oorskakelings is glad, maar kan effe oor-entoesiaties wees in die toerestrek wanneer daar vinnig weggetrek word by die stopstraat.
Dit lyk asof brandstofekonomie by meeste Chinese voertuie maar aan die hoë kant is. Ons het gesukkel om onder 8,6l/100 km te kry op ’n 1000+ kilometer met meer ooppad as stadsry.
Rit en paddinamika
Ons het gehou van die Tiggo 8 Pro Max se rygerief wat ook grondpadry ingesluit het. Ritgehalte was dalk bietjie aan die ferm kant, maar toe die bande effe afgeblaas is was die ritgehalte verbasend goed. Hantering was ook nie te sleg en al is die stuurgevoel maar “dooierig” met terugvoer, sal meeste eienaars dit glad nie eers opmerk nie. In geheel was die rit aangenaam en die kajuit verbasend stil.
Teen minder as N$700 000 bied die Chery Tiggo 8 Pro Max uitstekende waarde vir geld.
Dit is in standaard vorm by verre beter toegerus as meeste van soortgelyke modelle tans in die mark en veral die kompetisie uit Duitsland met die afwerking gunstig vergelykbaar.
Enigeeen wat tans op soek is na ’n voertuig in hierdie segment, moet beslis na die Chery Tiggo 8 Pro Max gaan loer en toetsbestuur.
Ingesluit by die prys kry kopers ’n 5 jaar / 150 000 km waarborg en ’n 7 jaar / 90 000 km diensplan.