Volkswagen gee die Polo nuwe vlerke
2025 VW Polo Vivo GT
Die gewilde VW Polo Vivo-reeks het einde laasjaar ’n opkikkering ondergaan, en ons het onlangs die topmodel GT vir ’n week onder hande gehad.Die huidige Polo Vivo-reeks is die tweede generasie van die Vivo en is geskoei op die vorige (Merk 5) van die Polo-luikrug wat vroeg in 2018 plaaslik bekendgestel is. Die topmodel GT is vir die Polo Vivo-reeks wat die GTI vir die huidige Polo 7-reeks beteken.
Die ontwerp is steeds dieselfde, maar kosmetiese veranderinge buite bring ’n varser, meer moderne voorkoms wat steeds aandag trek. Die voorbuffer het ’n nuwe ontwerp, met die hoofligte wat ook vernuwe is, en die misligte onder in die voorbuffer beskik nou oor die funksie om die hoeke te belig wanneer gedraai word. Ons toetsmodel is ook toegerus met die opsionele LED-ligte voor.
Agter op die klap is die “Vivo”-kenteken nou in die middel geplaas, soos by die nuwe generasie Volkswagen-modelle, en daar is ook die treffende blinkswart dak. Terwyl daar nuwe ontwerpe vir die sierwiele op ander modelle in die reeks is, behou die GT die pragtige en treffende 17-duim “Mirabeau” allooivellings.
Binne
Binne is die instrumentepaneel vernuwe met ’n nuwe 9-duim “Mirgor”-gebaseerde infotainmentstelsel wat die ou 6,5-duim “Composition”-stelsel vervang. Apple CarPlay en Android Auto telefoonkoppeling is standaard, terwyl WhatsApp-boodskappe op die skerm en via stemfunksie beskikbaar is. Die sitplekke se twee-kleur afwerking bring meer sportiwiteit na die kajuit, terwyl die kantondersteuning in die rugleunings ook verbeter is.
Die agterste vensters werk egter steeds met slingers, en die kantspieëls moet ook met die hand verstel word. Die GT beskik wel oor outomatiese funksies vir die hoofligte.
Onder die bak is dalk die grootste verandering aangebring, met VW wat die nuwe Polo Vivo GT toerus met elektroniese stabiliteitsbeheer, banddrukmonitor, heuwelaansithulp sowel as voorste kantlugsakke. Die GT beskik ook oor spoedbeheer, outomatiese lugversorging en ’n multifunksionele verstelbare sportstuurwiel met skakelaars.
Verrigting
Die ligpunt in die nuwe Vivo GT is egter die juweel van ’n 3-silinder 1,0-liter TSI-petrolenjin wat veel meer sportief en kragtiger voel as die maksimum 81 kW en 200 Nm se piekkragte wat dit moeiteloos lewer. Krag word na die voorwiele gestuur via ’n 6-spoed handratkas wat ons aangenaam beïndruk het met gladde, vinnige oorskakelings en perfekte verhoudings tussen ratte en kraglewering. Die 0–100 km/h-loop word aangedui as 9,7 sekondes, met ’n topspoed van net onder 200 km/h. Volkswagen SA se amptelike verbruik word aangedui as 4,8 l/100 km, en die brandstoftenk hou 45 liter.
Op die pad het die Polo Vivo GT, danksy goeie greep, ’n lae middelpuntgewig, ’n stewige onderstel en skerp stuur, vir goeie hantering gesorg. Algeheel, danksy die gewillige turbo en heerlike klank, het die Polo Vivo GT vir ’n opwindende en genotvolle tyd agter die stuur gesorg.
Die Polo Vivo GT kos om en by N$360 000 en bied ’n nuwe 5-jaar / 100 000 km-enjinwaarborg, maar ongelukkig steeds sonder ’n standaard diensplan.


