VW se Tayron maak sy debuut

1.4 TSi Life DSG 7-sitplek
-
Dirk Gallowitz

Volkswagen SA het verlede jaar die langverwagte opvolger van die Tiguan Allspace in drie modelweergawes bekendgestel. Ons het onlangs die voorreg gehad om die middelafwerkingsvlak Tayron LIFE met sewe sitplekke vir ’n week te kon toetsbestuur.

Al drie weergawes word toegerus met Volkswagen se beproefde 1.4 liter viersilinder, turbo-aangejaagde petrolenjin.

Die Tayron word gebou op Volkswagen se nuutste weergawe van die groep se modulêre argitektuur, bekend as MQB Evo - ’n gerespekteerde platform vir kompakte motors wat in Wolfsburg ontwerp is om ook hibriede en elektriese aandrywing te akkommodeer.

Die nuwe Tayron is groter in lengte en breedte as die Tiguan Allspace wat dit vervang, hoofsaaklik om drie rye sitplekke gerieflik te kan bied. In Volkswagen se SUV-modelreeks sit die nuwe Tayron bo die derde generasie Tiguan, maar onder die Touareg wat blykbaar binnekort van die toneel gaan verdwyn.

Die Tayron se voorkoms is beide modern en lomp. Die neus en agterkant vang die oog met ’n vars en moderne ontwerp, met veral die ontwerp van LED-ligstroke wat die Tayron onderskei. Die rooi verligte VW-kentekenontwerp is veral treffend. Die LED-hoofligte bied ’n outomatiese domp-/grootlig-funksie.

Pragtige opsionele 19” Catania-sierwiele komplimenteer die Tayron, maar van die kant beskou, en ten spyte van die pragtige en sportiewe Dolphin Grys metaalverf, vertoon die lang lyf egter lomp.


Kajuit

Die VW Tayron se kajuit vertoon en voel aansienlik meer premium as die uitgaande Tiguan Allspace, met beter bougehalte, duurder materiale en algehele afwerking wat meer superieur is.

Die 12,9” inligtingskerm is opgegradeer en bied nou vinniger reaksies en intuïtiewe integrasie met hoëgehalte volkleur grafika. Dit ondersteun steeds koordlose Apple CarPlay en Android Auto.

Wat opval, is dat VW weer skakelaars in die Tayron teruggebring het vir hooffunksies soos die ligte, ritmodusse en klankvolume. Ook die skakelaars op die multifunksie-stuurwiel hoef nie meer met ’n vingerskuif te werk nie.

Die 7-sitplek Tayron “Life”-model soos getoets bied onder meer ’n digitale instrumentpaneel, aanpasbare spoedbeheer, baanhouhulp, 3-sone klimaatbeheer, nege lugsakke asook atmosfeerbeligting vir die kajuit met tien kleuropsies. Ons toetsmodel het ook oor ’n opsionele groot elektries-beheerde panoramiese glasdak met ’n elektriese blind beskik. Ook opsioneel in ons toetsmodel was die Varenna-leersitplekke met die voorste sitplekke wat oor elektriese verstelling, drie geheuestellings asook masseer- en verhittingsfunksies beskik.

Die ruim kajuit bied meer as genoeg been-, kop- en skouerspasie vir die tweede ry, met sitplekke wat vorentoe of agtertoe kan skuif en rugleunings wat kan teruglê. Wat wel kort, is USB-koppel- en laaipunte vir die tweede ry passasiers. ’n Pluspunt is die kantblindings vir die vensters by die tweede ry sitplekke.

Die derde ry sitplekke vou gelyk plat om die laairuimte agter met toegang, danksy die opsionele elektries ondersteunde agterklap, te vergroot. Opgeslaan bied die twee sitplekke egter net genoeg spasie vir jong kinders.


Enjin

Soos gemeld word die Tayron aangedryf deur Volkswagen se bekende 1.4 TSi viersilinder turbopetrolenjin wat 110 kW en 250 Nm maksimum krag lewer. Krag word na die voorwiele gestuur deur VW se 7-gang DSG dubbelkoppelaar-outomatiese ratkas.

Amptelik gebruik die Tayron 7,6 L/100 km, maar ons kon ná ongeveer 1 000 km se gemengde gebruik nie beter doen as 8,6 L/100 km nie. Die 0–100 kpu-versnelling word aangegee as 9,2 sekondes met ’n topspoed van 207 kpu.

Op die pad is die Tayron heel gemaklik teen snelwegspoed en sukkel ook nie te veel met verbysteek nie. Ons vermoed egter dat die 1,4 liter turboenjin dalk mag sukkel met sewe insittendes en bagasie, selfs op die oop pad. Die 1.4 TSi-enjin in die Polo en ander kleiner VW-modelle is gemaklik rondom 6,0 L/100 km, en die hoër verbruik by die Tayron kan heel waarskynlik toegeskryf word aan die swaarder en groter bakwerk. Daar word wel ’n 2.0 liter 4Motion en ’n 2.0 liter hibriede plaaslik verwag.

Andersins bied die Tayron gemaklike en verfynde ritdinamika met goeie balans en greep waar dit nodig is. Alhoewel ons toetsmodel oor ’n opsionele verstelbare sleephak met ’n elektroniese sleephulstelsel toegerus was, het ons nie die sleepvermoë en/of die sleepstelsel kon toets nie.

Ter opsomming, en ten spyte van die lang lyf en moontlikheid (ons het dit nooit getoets nie, so die aanname mag dalk geen waarheid inhou nie) dat die enjin onder gewig dalk mag swaarkry, is die VW Tayron ’n lekker gesinswa.

Die prys mag dalk verkope inhibeer, veral gemeet teen die 7-sitplek-mededingers in hierdie uiters taai en kompeterende segment. Dink maar aan Mitsubishi Outlander, Hyundai Alcazar en ’n legio Chinese modelle, waaronder Chery Tiggo 8 Pro Max, Haval H6 en Changan CS75 Pro, om maar net ’n paar te noem.