Cow: Personeel oorbetaal, finansies betreurenswaardig

Munisipaliteit bestee N$27m aan oudwerknemers se medies
Ogone Tlhage
Na-aftrede gesondheidsorgvoorsiening kos die Windhoekse munisipaliteit – wat in nege jaar kumulatiewe verliese van N$3,2 miljard gely het – N$2,3 miljoen per maand, wat jaarliks N$27 miljoen beloop.
Dít volgens raadslid Jürgen Hecht. Hy het die stelling gemaak tydens ’n media konferensie wat ’n seldsame insig gegee het oor die munisipaliteit se finansiële probleme.
Hecht het die feit gekritiseer dat werknemers van die Stad Windhoek 30% tot 40% bo markkoers verdien. Die kumulatiewe verliese van N$3,2 miljard sou meer as 6 000 huise kon bou as elke eenheid gemiddeld N$500 000 sou kos, het Hecht, ’n rekenmeester, gesê.
Die raadslid van die Independent Patriots for Change (IPC) het die geleentheid gebruik om kwessies rondom die Stad se vergoedingstruktuur, die finansies van die Stadspolisie en die voordele wat werknemers geniet na vore te bring.
Volgens hom kon die munisipaliteit verskeie kapitaalprojekte voltooi het as hy nie die astronomiese verliese gely het wat hy oor ’n tydperk van nege jaar gemaak het nie.
“As jy na die afgelope nege jaar kyk, het die Stad Windhoek kumulatiewe verliese ter waarde van N$3,2 miljard gely. As ons net sou reggekry het om gelyk te breek... ’n Goeie, behoorlike tweeslaapkamerhuis sal jou N$500 000 kos, dan kon 6 300 huise met die N$3,2 miljard gebou gewees het,” het hy gesê.
“As jy aanvaar dat een kilometer se teerpad jou N$1 miljoen kos, dan kon 3 200 kilometer se pad geteer gewees het,” het Hecht bygevoeg.
Die stand van finansies het ’n tol op die Stad geëis, het Hecht gesê. “Ons het 'n tekort van N$1,1 miljard, so die solvensie van Windhoek is katastrofies; dit is van kommerwekkende afmetings,” het hy gesê.
Oorbetaalde amptenare
Die munisipaliteit betaal een van die hoogste salarisse in Windhoek – indien nie Namibië nie – het Hecht gesê en verwys na inligting wat deur sy mensekapitaaldepartement gedeel is.
’n Vergelyking is gedoen tussen wat die Stad betaal en wat die konvensionele Patterson-graderingstelsel aanbeveel, het hy bygevoeg. “Dit is geen geheim dat die Stad van die hoogste salarisse in Windhoek betaal nie. Werknemers verdien 30% tot 40% bo markkoers en dit is ’n groot probleem vir ons bestaande kostestruktuur,” het Hecht gesê.
“In die laagste bande betaal ons 620% bo markkoers. In die hoogste bande, 144% meer as die markkoerse. Ons kan dit nie bekostig nie.”
Hecht het ook ’n batefinansieringsreëling wat met ’n groot finansierder aangegaan is bevraagteken en gesê die reëling was nie tot enige voordeel vir die Stad nie.
“Daar is ’n personeelvoertuigfinansieringsreëling wat die Stad het. ’n Stadswerknemer kan ’n motor koop, dit word teen 5% gefinansier, maar die munisipaliteit betaal daarvoor teen ’n prima rentekoers van 8,5%. Die rentekoersdifferensiaal word deur die Stad gedra; dis deel van ons bedryfsuitgawes.”
Nog ’n bekommernis vir Hecht was die na-aftrede gesondheidsorgvoorsiening wat die Stad as deel van sy verpligtinge moes skep. “Ons het ’n na-aftrede gesondheidsorgvoordeelskema teen ’n sekere koste vir die Stad. As jy na ons amptelike state kyk, is ’n voorsiening van N$630 miljoen geskep. Tans het ons 593 werknemers wat afgetree het wat hierdie voordeel geniet. Dit kos N$2,3 miljoen per maand,” het hy gesê.
’n Oorsaak van kommer was dat ’n verdere 1 875 werknemers binnekort vir dié voordeel in aanmerking sal kom, vir wie finansiële voorsiening gemaak sal moet word.
Stadspolisie onbekostigbaar
Die Stadspolisie is nou ook onbekostigbaar, het Hecht gesê en beklemtoon dat dit met die Namibiese Polisie herbelyn moet word.
“Die salarisse wat vir hierdie nuwe boekjaar vir die Stadspolosie begroot is, is N$230 miljoen en dit is 90% van sy hele kostestruktuur. Ons kan nie ’n Stadspolisie van N$230 miljoen bekostig in ons huidige finansiële verknorsing nie.”
Die Stadspolisie het tans 440 werknemers, het Hecht gesê.
Stadspolisie se vredesbeamptes verdien ook twee keer soveel as hul eweknieë van soortgelyke rang in die Namibiese Polisie, het Hecht gesê.