Groot Aub beter onder Windhoek – raadslid

Ogone Tlhage
Windhoek Landelik kiesafdeling se raadslid, Petrus Adams, sê Groot Aub se oorgang na ’n nedersetting mag nie te vinnig geskied nie, aangesien dit voordeel kan trek as dit onder die Windhoekse munisipaliteit val.
“As jy na die ekonomiese toestand van die land kyk, sal Groot Aub twee tot drie stappe agteruitgaan as dit tot raadstatus gebring word,” het hy gesê.
Volgens hom sal die toekenning van nedersettingstatus aan Groot Aub ook beteken dat inwoners self infrastruktuurbehoeftes sal moet finansier. Hy het bygevoeg dat daar onder die Windhoek munisipaliteit ’n mate van versekering is dat die munisipaliteit vir hierdie koste verantwoordelik sal wees.
“Ons moet die voor- en nadele versigtig opweeg,” het Adams gesê.
Die skakel met die Stad beteken ook daar is nou ’n manier om ’n toestroming van mense wat grond onwettig by Groot Aub beset, te hanteer, het hy gesê.
Volgens Adams is daar “ondergrondse magte” wat Groot Aub se inwoners mislei het om nedersettingstatus te wil bekom en dat daar bybedoelings is. “Daar word vir mense gesê die Stad Windhoek wil nie vir Groot Aub voorsiening maak nie; iewers is iets nie reg nie.”
Mense het egter die reg om die uitbreiding van Windhoek na Groot Aub te verwerp, het hy gesê. “Ons mense wil nie die Stad hê nie. Ek kan hulle nie dwing om iets te doen wat hulle nie wil nie.”
Die nedersetting het binne die grense van Windhoek geval toe die munisipaliteit sy grense in 2011 uitgebrei het. Groot Aub is in 2017 tot ’n uitbreiding van Windhoek geproklameer, ondanks wydverspreide teenkanting van inwoners.
Die nedersetting is 50 kilometer suid van die hoofstad.