Namibiese Grondwet-toep bekendgestel

Elizabeth Kheibes
Die Konrad Adenauer-stigting en MindsInAction het verlede week Namibië se eerste Grondwet-mobiele toepassing bekendgestel.
Die toep is beskikbaar op alle iOS- en Android-toestelle en sluit in zoem- en oudiokenmerke, wat dit toeganklik maak vir visueel en gehoorgestremde persone.
Die ontwerp van die toep het in Maart 2022 begin en is in September afgehandel. Daar het reeds meer as 700 mense die toep afgelaai.
Tydens die amptelike bekendstelling, het Ndaudika Mulundileni, uitvoerende hoof van MindsInAction, gesê die span is ywerig om wydverspreide bewustheid daaroor te skep. "Hierdie toep het ten doel om Namibiërs in te lig oor hoe gebruikersvriendelike en maklik dit is om toegang tot die Grondwet te bekom. Boonop stel die toepassing gebruikers in staat om spesifieke artikels oor verskeie platforms te deel, bv. WhatsApp," het Mulundileni gesê.
Hy het bygevoeg dat voor die bekendstelling daarvan, 'n opname gedoen is om die gebruikersvriendelikheid van die toep te bepaal en ook om insig te kry of die toepassing in inheemse tale vertaal moet word.
“Die meeste reaksies was van die jeug in die Khomasstreek, wat daarop wys dat hulle betrokke is by die groter gesprek rondom hul regte,” het hy gesê.
Mulundileni het gesê die toepassing sal af en toe opgedateer word om nuwe kenmerke bekend te stel soos nodig.
Emma Theofelus, adjunkminister van inligting, kommunikasie en tegnologie, het tydens die geleentheid gesê die toep sal alle Namibiërs toelaat om deel te wees van 'n besluitnemingsproses. "Belangriker nog, dit sal hulle in staat stel om de beslissers te wees van ons leiers en wie regeer," het Theofelus gesê. .