Okahandja rommelkwessie glo vandag opgelos

Voertuie onpadvaardig
Iréne-Mari van der Walt
Inwoners van Okahandja se huishoudelike rommel is glo oor die afgelope weke nie verwyder nie na vier rommelverwyderingsvoertuie onpadvaardig verklaar is.
"Ons trokke is tot stilstand gebring en dus kon ons nie hierdie dienste uitvoer nie, maar ons is besig om dienste te verkry," het die dorp se uitvoerende hoof, Alfons Tjitombo, gesê.
Tjitombo het aangevoer dat die trokke se verouderde toestand van die munisipaliteit se twee wipbakvragmotors (tippers) en twee vullislorries wat afval kan kompakteer (compactors) gelei het tot kroniese onderbrekings in dié dorp se rommelverwyderingsdienste gelei het. "Dit is 'n duursame proses om die nodige onderhoud aan die trokke te laat doen en hulle word eers padvaardig verklaar wanneer die instandhoudingswerk voltooi is. Ons is tans besig om nuwe kompakteerders te kry," het hy gesê.
Tjitombo glo dat 'n oplossing op hierdie probleme vandag (Woensdag) of môre (Donderdag) geïmplimenteer kan word.
'n Inwoner van uitbreiding 6 wat anonimiteit verkies, het ook beswaar gemaak oor rioolinfrastruktuur wat glo nie onderhou word nie. Volgens hierdie inwoner het 'n rioolpyp naby hul huis gebars en is weke later nog nie herstel nie. Tjitombo het hierop geantwoord dat werk aan hierdie probleem gister (Dinsdag) begin is en dat rommel van die verskeie fabrieke in die area baie druk op die rioolinfrastruktuur ter sprake geplaas het. "Ons sal nou moet identifiseer watter fabrieke 'n deel van die probleem was en dit van daar af moet vat," het hy gesê.
Dié inwoner het ook aangevoer die rommelverwyderingskwessie duur reeds ongeveer 'n maand.
Dit volg etlike maande na 'n groep inwoners van Okahandja 'n petisie aan die minister van stedelike en landelike ontwikkeling Erastus Uutoni gerig het waarin hulle kapsie gemaak het oor die lewering van munisipale dienste. Die inwoners het later ook hul petisie aan die eerste minister Saara Kuugongelwa-Amadhila gerig na Uutoni glo nie gehoor gegee het aan hul griewe nie.