Okahandja steeds toe onder rommel

Agterstand vertraag glo vullisverwydering
Die munisipaliteit van Okahandja meen die Tuindorp se vullisprobleme sal vandag iets van die verlede wees.
Iréne-Mari van der Walt
“Genoeg is genoeg,” het ’n inwoner van Okahandja, Lilly Opperman, gister gesê nadat sy haar sakke met huishoudelike vullis voor die munisipaliteit se deur afgelaai het.
“Ek het vanoggend 11:00 my vullissak [by die munisipaliteit] gaan aflaai en [hulle] in kennis gestel. Teen 11:30 was die sak reeds verwyder,” het sy gesê.
Dit volg nadat die munisipaliteit se uitvoerende hoof, Alfons Tjitombo, verlede week aan ons susterpublikasie, Republikein, gesê het die dienste om vullis te verwyder sou weer Donderdag hervat.
Inwoners het egter gister hul griewe oor die voortdurende kwessie gelug.
Doreen Koen sê sy het verlede maand laas ’n vullislorrie op die dorp gewaar, maar sy sê ook ’n wit enkelkajuitbakkie verwyder soms die vullis.
Julia Hukununa, die munisipaliteit se bestuurder vir omgewingsgesondheid en nooddienste, sê dié bakkie word gebruik om vullis in plastieksakke te verwyder om die las op die munisipaliteit se nuwe lorrie te verlig.
Sy sê sedert die nuwe lorrie verlede week ingespan is, kon die munisipaliteit nie daarin slaag om al die vullis te verwyder nie.
“Ons het ’n lorrie gekry wat tans die vullis in die Nau-Aib-buurt verwyder. Ons sal tot môre [vandag] nog besig wees om die vullis te verwyder wat die afgelope ruk opgehoop het,” het sy gesê.
Hukununa sê die munisipaliteit hoop steeds om huishoudelike vullis een keer per week te verwyder ten spyte daarvan dat daar tans slegs een werkende lorrie is en nie vier soos in die verlede nie.
Volgens Hukununa sal die munisipaliteit na verwagting vandag die laaste van die oorblywende vullis verwyder.
[email protected]