Ondersoek na Gawanas se toelaes

Ogone Tlhage
Die ministerie van stedelike en landelike ontwikkeling gaan ’n ondersoek na Windhoek se burgemeester, Sade Gawanas, van stapel stuur nadat dit aan die lig gekom het dat sy ’n vervoertoelaag ontvang het terwyl sy ook van die munisipaliteit se voertuie vir privaat en amptelike pligte gebruik gemaak het.
Volgens beleid mag die burgemeester net een van die twee voordele gebruik – ’n vervoertoelaag of ’n munisipale voertuig – maar New Era het vandeesweek berig dat Gawanas by albei baat vind sedert sy verlede Desember die amp aanvaar het.
Die ministerie se uitvoerende direkteur, Nghidinua Daniel, het gesê onlangse berigte in die media het ’n ondersoek genoodsaak. “Die ministerie sal ’n ondersoek begin na die beweerde aangeleentheid, wat deur ’n mediaberig onder ons aandag gekom het,” het hy gesê.
Die burgemeester het glo drie voertuie gebruik wat aan die munisipaliteit behoort vir haar amptelike en private gebruik toegeken is, asook die gebruik van ’n aangewese bestuurder gehad – dit terwyl sy ’n N$9 500 vervoertoelaag verdien.
Sy het glo vanjaar N$57 000 aan vervoervoordele verdien.
Die gebruik van die Stad se voertuie terwyl sy of hy ’n vervoertoelaag ontvang, is in stryd met munisipale raadslidvoordelebeleid.
Eneas Emvula, woordvoerder van Landless People’s Movement (LPM), het teruggekap op die eise en gesê die saak is “buite proporsie geblaas”.