Vroue op Rehoboth gevier
“Die voetspore wat ons vandag los deur ons waagmoed, eenheid en strewe na gelykheid, vorm die Namibië van môre, nie net vir onsself nie, maar vir elke dogter wat in ons voetspore volg.”Dit was die inspirerende boodskap van dr. Emma Kantema, die minister van geslagsgelykheid en kinderwelsyn, tydens ’n deftige damestee die naweek ter viering van vroue op Rehoboth.
Dié jaarlikse hoogtepunt op die dorp se sosiale kalender is deur die Women in Business Association (Wiba) se tak vir Rehoboth Stedelik-Wes ter viering van Vrouedag aangebied.
Die ministerie se hoofwoordvoerder, Mildred Feris, het die ministerie se vennootskap met Wiba beklemtoon om vroue-entrepreneurs landswyd te bemagtig.
Die adjunkminister van nywerheidsontwikkeling, myne en energie, Gaudentia Kröhne, het op haar beurt vroue aangemoedig om te diversifiseer en die meeste van geleenthede in alle sektore van die ekonomie te maak. Deel van die damestee was ook die Bakpro Top Baker-kompetisie om die dorp se bobaasbakkers te vier wat ook hul tuisgebak met gaste gedeel het.