Word wakker Windhoek!

Jemima Beukes
Fritz Kaufmann, voorsitter van die Khomasstreek vir die Independent Patriots for Change (IPC), het gesê hul uitstap van die Windhoek munisipale raad was nie op die ingewing van die oomblik nie, maar ’n opsetlik om hul standpunt oor etiek en beginsels te beklemtoon.
Tydens ’n mediakonferensie wat Dinsdagoggend gehou is, het Kaufmann gesê dat hulle nie beskikbaar is vir ’n resies na posisies of oorsese reise vir onproduktiewe vergaderings om groot bedrae in lewens- en reistoelaes (S&T) in die sak te steek terwyl die massas kripeer nie.
“Hoe kan julle ons konstruktief onder julleself uitstem en van ons verwag om by julle te staan wanneer titels veronderstel is om uitgedeel te word? Titels waarvoor? Om te reis en na plekke te gaan terwyl kinders in rivier van riool en die Goreangabdam speel en waar daar nie mangatdeksels is nie; dit terwyl ons op uitstappies gaan en S&T van sowat N$80 000 bestee, wat in jou eie sak gesteek word. Ons as die IPC sal nie daardie besteding van geld duld wanneer ons almal weet die Windhoek munisipaliteit is basies korrup nie,” het hy gesê.
Kommerwekkende uitgawes
Kaufmann het gesê hy is veral ontsteld oor reise wat deur voormalige burgemeester Sade Gawanas na Duitsland en Dubai onderneem is, terwyl haar voorganger Job Amupanda na Jamaika gereis het.
IPC-raadslid Ndeshihafela Larandja het destyds op die nippertjie aan die Jamaika-afvaardiging onttrek en ook ’n reuse N$93 608,94 aan toelaegeld teruggegee.
In Oktober is Gawanas ook daarvan beskuldig dat sy interne prosedures geïgnoreer het toe sy ’n drie dae lange landbouslypskool in Brasilië bygewoon het, waarvoor die munisipaliteit nagenoeg N$230 000 moes opdok en waarvoor daar nie begroot is nie.
Gawanas is aanvanklik genooi met alle uitgawes wat gedek sou wees, maar die organiseerders het die besluit op die nippertjie verander en net haar verblyf betaal, terwyl die Stad haar retoerkaartjie, wat N$62 741 gekos het, moes betaal.
Die Stad het ook N$17 465 betaal vir selfoon swerfkostes vir beide Gawanas en die munisipaliteit se bestuurder vir maatskaplike en jeugontwikkeling, James Kalundu, terwyl die burgemeester S&T ten bedrae van N$41 000 en Kalundu N$53 000 ontvang het.
Standpunt
Kaufmann het beklemtoon dat stadsraadslede moet onthou en besef hulle werk gaan oor mense, nie individue nie, en het Namibiërs aangemoedig om wakker te word en standpunt in te neem oor die kwessies wat hulle raak.
“Noudat ons opstaan vir ons beginsels, vra almal hoe ons hieroor voel. Mense moet besef die munisipaliteit is nie ’n private en persoonlike speelpark nie. Ons het mense in komitees nodig wat verstaan watter werk gedoen moet word en ’n diens moet lewer. Kom ons neem finansies. Jy het ’n finansiële persoon nodig om finansies te verstaan. Jy het iemand nodig wat wette en verordeninge ken wat grondwetlik deur ons as ’n volk neergelê word, om te verseker dit word nagekom.”
Hy het beklemtoon dat daar ernstige probleme by die munipaliteit is en daarom sukkel die instansie om dienste te lewer. “Raadslede moet ophou om hul honger na luukshede en reise bo die behoeftes van mense te stel.” – [email protected]