Witvlei BV: ’n Terugblik op 100 jaar se geskiedenis

Jare van moed, geloof, volharding en trots
Ten spyte van droogtes en oorloë, vier die Witvlei Boerevereniging hul eeufees in 2026, wat getuig van dekades se passievolle boerderyvolharding.
Jacques du Toit

Op 18 April 2026 gaan die Witvlei Boerevereniging ’n uitsonderlike geleentheid vier. 

Op dié dag is die boerevereniging presies 100 jaar, ofte wel 36 500 dae, oud.

Van ’n klein stigtingsvergadering aan die oewer van die Wit Nossob, onder ’n kameeldoringboom by Witvlei in 1926, tot een van die grootste en veerkragtigste boereverenigings in Namibië, lê baie jare van moed, geloof, werkywer, volharding en trots.

Dit was geensins ’n maklike pad om te loop nie, maar oom Ben Swart, die eerste voorsitter van die boerevereniging, was ’n man wat nie van tou opgooi geweet en nee vir ’n antwoord aanvaar het nie. 

Om so vinnig na ’n paar klippe in die pad van die strydosse te kyk, kan daar eerstens genoem word van die Groot Depressie wat in 1929 begin het. 


UITDAGINGS OOR DIE JARE

Die wêreldekonomie het in duie gestort, wat elke boer in Namibië onder geweldige druk geplaas het. 

Die depressie word gevolg deur die groot nasionale droogte van 1931 tot 1932, wat deur die hewige vloede in Januarie en Februarie 1934 gebreek is.

Alhoewel die reën goeie uitkomste gebring het, slaan die volgende ellende toe. Bek-en-klouseer breek vir die eerste keer in Namibië uit. Dit word weer gevolg met die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog in September 1939, waarby Namibië ook indirek ingetrek word. In Mei 1948 kom die Nasionale Party aan bewind in Suid-Afrika, wat nuwe onsekerheid onder plaaslike boere skep.

Een van die hoogtepunte in die Witvlei Boerevereniging se bestaan, is die inwyding van die Boerehuis te Witvlei in 1959. ’n Trots wat soos ’n kleinood opgepas word. 

Die blydskap word vinnig gedemp deur die feit dat die volgende droogte op die voorstoep wag. In 1961 breek bek-en-klouseer weer in Namibië uit.

Op 21 Maart 1990 word Namibië onafhanklik met sy eie unieke uitdagings. Die volgende groot krisis breek in 2020 aan toe die hele land in totale inperking geplaas is, gevolg deur ’n rampdroogte in 2023-’24.

As na die vroeë tydlyn gekyk word, moet jy jou hoed vir oom Ben Swart, Arnfried Glaue, Albert Trümper en Christiaan Schüllenbach afhaal. Nie een van hierdie uitdagings kon dié manne onderkry nie en is die boerevereniging se belange deurgaans beskerm en gedien, al het die aktiwiteite sekere jare bietjie afgeskaal.


DIE BOEREHUIS

Die Witvlei Boerevereniging se Boerehuis het ’n baie interessante geskiedenis. 

Van die talle probleme met die aankoop van die erf, bouplanne wat in Zimbabwe gaan haal is, ’n handelsbank wat weier om ’n £2 000-lening aan die boerevereniging toe te staan en vele funksies en basare gehou ter stuiwing van die boufonds, skep besondere leesstof. Dit beklemtoon die ouer garde se wil tot ’n weg. 

Oor die jare was lede van die Witvlei Boerevereniging ook gereelde rolspelers op die nasionale landbouverhoog. In kongressale waar sake van nasionale belang soos roompryse, veebemarking, subsidies, spoorvervoer, kommunikasie en paaie bespreek is.

Witvlei-lede se name duik telkens op as ywerige deelnemers aan hierdie gesprekke. Die Witvlei Boerevereniging is geaffilieer by die Namibië Landbou-unie sowel as die Gobabis Distrikslandbou-unie.

Die boerevereniging het oor baie jare ’n aktiewe deelname getoon in die nasionale braaikompetisie, en selfs sportsdae, boerderydae en inligtingsdae aangebied.

Al die opeenvolgende voorsitters en besture het bygedra tot die uitbouing van die boerevereniging. Met ’n basis wat deur die ou kampvegters gelê is,  kon die jonger geslag net voortbou en uitbrei. 

Dit is juis hierdie basis wat gehelp het om die meer hedendaagse probleme aan te pak, maar interessant genoeg is probleme soos kommunikasie, paaie en veebemarking steeds deel van die agenda.

Dienslewering aan en betrokkenheid in die Witvlei-gemeenskap en die Witvlei-omgewing vorm ook ’n belangrike komponent van die boerevereniging se struktuur.


DIE EEUFEES

Lede van die boerevereniging het besluit om die feesvieringe hoofsaaklik intern te hou met enkele genooide gaste van buite. 

Die besluit is hoofsaaklik gebaseer op die feit dat Witvlei se Duitse gemeenskap ’n maand voor die boerevereniging se feesviering nog hul tweejaarlikse OSKA aanbied.

’n Klein reëlingskomitee van nege lede is verkies wat al bietjie langer as drie jaar aan die 100 jaar-feesvieringe beplan. 

So ’n geleentheid kan nie sonder eksterne finansiële hulp gedoen word nie en moet daar melding gemaak word van Bank Windhoek (Gobabis) wat as hoofborg van die geleentheid gaan optree. 

Ander groter borge wat ook bydraes gelewer het, is Karoo Osche, Santam, Absolute Logistics, Hunterspride Taxidermie, Securitas en Gobabis Toyota. Vele kleiner borge, lede en vriende het ook tot die organisering van die 100ste bestaansjaarviering bygedra. 

– Witvlei Boerevereniging