Naelskraap-stryde en proewe by Napso Blits 7’s
Napso (die Namibiese Privaatskole-organisasie) se jaarlikse Blits 7’s geborg deur Nammed is laas naweek by Affiespark aangebied met Windhoek Afrikaanse Privaatskool (WAP) as die gasheerskool.
Afsonderlik is proewe vir die nasionale Napso-toerspanne in hokkie (seuns en meisies), netbal en 15-rugby vir die ouderdomsgroepe o.13 en o.19 ook aangebied met die oog op 'n toer na Vanderbiljpark in Suid-Afrika gedurende Julie.
Die Blitz 7's het dus mense van oraloor die land byeen gebring vir twee dae van kompetisie op sportgebied.
Die netbaluitslae ná afloop van Vrydag en Saterdag se wedstryde was soos volg. By die onder 12’s het Pro-Ed Akademie se A-span goud behaal, Laerskool Walvisbaai silwer en WAP se A-span brons.
WAP se eerste span het die onder 14 netbalfinaal met 17-6 teen Pro-Ed Akademie gewen. Walvisbaai Privaatskool het die brons behaal.
In die onder 15 netballiga het WAP se A span goud behaal deur vir Walvisbaai Privaatskool met 30-7 te oorheers, terwyl Elnatan die brons behaal het.
Tsumeb Gimnasium se o.17-netbalspan het vir WAP se A-span in die eindstryd met 13-7 geklop, terwyl Walvisbaai Privaatskool die brons ontvang het.
Op die rugbyveld is in die onder 11- en o.15-kompetisies meegeding. WAP se onder 11A-span het die eerste plek beklink deur Laerskool Walvisbaai in die eindstryd met 45-0 te oorheers, terwyl Pro-Ed Akademie die derde plek ingeneem het.
In die onder 15-rugbyliga het WAP Geel ook oorheers deur vir WAP Blou in die finaal met 35-25 punte te klop. Elnatan is met die derde plek huis toe.
Wonderlike ervaring
Marissa Albat, senter van Tsumeb Gimnasium se o.17-netbalspan, sê die Napso Blits 7’s was ‘n wonderlike ervaring. “Die vinnige pas van die spel was uitdagend, maar soveel pret.”
Oor die oorwinning wat haar span teen WAP in die finaal behaal het, het Albat bygevoeg: “Dit was 'n mengsel van pure verligting en opgewondenheid!
“Ek het net gedink, ‘Ons het dit sowaar reggekry!’ Ek was so trots op hoe ons as 'n span saamgestaan het, veral toe die telling so na aan mekaar was. My hart het sommer vinniger geklop van al die adrenalien.”
O.13- en o.19-spanne gekies
Oor die naweek se rugbyproewe vir die nasionale Napso-spanne het Frans Joubert, die Napso-kodehoof vir rugby, opgemerk: “ Die gehalte van rugby tydens die onder 13- en onder 19- proewe was vanjaar besonders hoog.”
Joubert sê spelers se insig in die spel en spesifieke vaardighede is ook beoordeel. “Karakter op die veld, dissipline en samewerking speel ook ‘n baie belangrike rol in die keuringsproses.”
Hy het vertroue dat die aangewese keurders die beste moontlike spanne gekies het. “ Hierdie jaar het ons ‘n gestruktureerde stel kriteria gebruik wat keurders gehelp het om spelers meer spesifiek volgens hul posisies en vaardighede te evalueer.”
Ruan Oosthuizen, die Napso kodehoof van hokkie, was in sy skik met die gehalte van hokkie wat hy by die proewe gesien het. “Napso-skole het oor die algemeen goeie hokkiespelers; dit is duidelik elke jaar by die proewe. Ons het goeie spanne gekies wat kompetered in Suid-Afrika sal kan meeding.”
• Die naamlyste van die aangewese Napso-toerspanne in hokkie (seuns en meisies), netbal en rugby sal Donderdag in My Zone gepubliseer word.


