Brandseisoen: Is jou plaas gereed?

Voorkom veldbrande, beskerm jou plaas
Reën het geval, maar boere moet steeds op hul hoede vir brandgevaar wees. Só kan boere hul plase betyds beveilig.
Boere is dankbaar vir die goeie reën wat hulle ontvang het. Weiding staan geil, die diere het kos en gemoedere is positief.
Tog is dit juis nou nodig om aan brandvoorkoming te begin dink, want hierdie seisoen is daar volop vlambare materiaal. Onthou: elke plaas is uniek en nie alle raad is op almal van toepassing nie.
Begin solank met die volgende stappe:
1. Plaaskaarte: Hou opgedateerde kaarte met paaie en waterbronne. Verseker toegang tot waterpunte.
2. Ontbos paaie: Skraap paaie langs kampdrade skoon van oorgroeide gras, bosse ens.
3. Radiokommunikasie: Tweerigtingradio’s is noodsaaklik. Sluit by die plaaslike radioklub aan.
4. Voorbrandpaaie: Berei dit vroegtydig voor. Snyers moet brandblustoerusting hê as gras begin droog word.
5. Padreserwes: Sny gras langs hoofpaaie. Doen dit self, maar kry eers toestemming van die Paaieowerheid (RA).
6. Brand snags: Doen voorbrande saans vir veiliger omstandighede.
7. Waarsku bure: Stel bure en brandbeskermingsverenigings in kennis van brandaktiwiteite.
8. Sluit aan: Word deel van jou plaaslike brandbeskermingsvereniging.
9. Toerusting: Hou brandweerwaens, spaarwiele, domkragte en pomptoerusting in werkende toestand.
10. Voertuigtoerusting: Elke voertuig moet ’n byl, graaf en ligte ketting hê.
11. Draadtang: Belangrik vir noodontsnapping uit wildheinings.
12. Vuurhoutjies: Dra altyd vuurhoutjies by jou. As jy in ’n brand vasgevang word, steek die gras aan die brand en beweeg agter jou eie vuur aan.
13. Opleiding: Lei werkers op en verskaf beskermende toerusting.
14. Rapporteer brande: Meld veldbrande aan en hou noodnommers gereed.
15. Brandpermit: Moet nooit sonder ’n geldige permit die veld brand nie, veral nie in hoërisiko-weerstoestande nie.
16. Toesighouer: Iemand verantwoordelik moet altyd teenwoordig wees in die eienaar se afwesigheid.
17. Reaksie: Stel bure en brandspanne onmiddellik in kennis wanneer ’n brand uitbreek.
18. Veiligheidsones: Vergroot lêplekke en kaal kolle by voerbakke vir brandbeheer.
19. Toeganklikheid: Maak seker brandspanne en hul voertuie het toegang tot die plaas.
20. Ryoorgange: Snoei takke en hou drade hoog genoeg vir brandweervoertuie (4 meter).
21. Verminder risiko: Sny lang gras, snoei bome, verwyder blare uit geute en hou “brandlere” weg van geboue.
22. Verdedigbare ruimte: Skep ’n brandvrye sone van 20 meter rondom geboue.
23. Voorgeskrewe brande: Kry altyd ’n permit voordat jy vlambare materiaal op hierdie manier verwyder.
24. Brandgevaarindeks: Hou die daaglikse brandindeks dop. Moenie op warm, winderige dae vullis verbrand nie.
25. Regulasies: Doen navraag oor plaaslike beperkings en kry ’n permit waar nodig.
26. Brandbestuurstrategie: Deel jou plaas in vier kwarte op met breë brandpaaie. Brand een kwart, red die res.
– Namibië Landbou-unie (NLU)