GAC Nova: Klein prys, groot verrigting
Die GAC GS3 Emzoom, wat in een van die mees mededingende segmente meeding, het aanvanklik maar ’n opdraande pad gehad, grootliks weens sy onmededingende prys. Die toevoeging van ’n aansienlik meer bekostigbare intreevlakweergawe, die Nova, behoort egter die vooruitsigte vir beter verkoopsyfers te verbeter.
GAC Motor is in 2024 in Suid-Afrika bekendgestel met die toetrede van die Salvador Caetano Groep, wat die verspreiding, verkope en naverkoopdiens plaaslik hanteer.
Die GS3 Emzoom, ’n klein, voorwielaangedrewe, turbopetrol-kompakte SUV, is destyds ook as deel van die handelsmerk se toetrede bekendgestel. Dit is geposisioneer as ’n alternatief vir die Haval Jolion Pro, Omoda C5, Chery Tiggo Cross en Toyota Corolla Cross, wat toe die segment oorheers het.
Hoewel die Emzoom as ’n goed ontwerpte motor die oog gevang het, was die bekendstellingsprys eenvoudig te hoog vir kopers om ’n onbekende nuweling dadelik te omhels. Die prys is gevolglik in Januarie 2025 verlaag.
Vroeg in 2026 is die GS3 Emzoom-reeks egter uitgebrei met ’n intreevlak 1.5T Nova, wat na verwagting tot groter verkoopsukses sal bydra.
Met ’n laer spesifikasievlak en ’n aantreklike prys van ongeveer N$360 000, ding die Emzoom GS3 Nova nou mee teen die Chery Tiggo Cross 1.5T Million Edition en is hy boonop net sowat N$20 000 duurder as die intreevlak-Omoda C5 1.5T 230T Street+. Albei is direkte teenstanders in hierdie uiters mededingende segment.
Voorkoms en ontwerp
Ons toetsmotor was in ’n treffende metaalrooi afgewerk, wat die GS3 Emzoom se sportiewe ontwerp en voorkoms beklemtoon het en gevolglik onmiddellik aandag getrek het. Die 2026 GAC GS3 Emzoom is sekerlik tans een van die mooier kompakte SUV’s, of crossovers, op die Suid-Afrikaanse mark.
Die nuweling se ontwerp bied ’n dapper, sportiewe voorkoms met sterk aksentlyne en ’n treffende vooraansig.
Die Nova se lengte van 4 410 mm, breedte van 1 850 mm en hoogte van 1 600 mm, op ’n asafstand van 2 650 mm, bied die regte afmetings om in hierdie segment sy man teen die meeste mededingers te staan.
Met 17”-allooiwiele bied die Nova 190 mm grondvryhoogte, wat hom ook geskik maak vir gemaklike ry op tweespoorpaadjies.
Die aërodinamiese deurhandvatsels wat in die deure invou, is ’n kenmerk wat ’n mens eerder op heelwat duurder voertuie sou verwag en dra by tot die Nova se algehele voorkoms.
Kajuit en toerusting
Die Nova se kajuit is modern en sportief uitgelê, soortgelyk aan dié van die ander Emzoom-modelle, en is na ons mening klasleidend in hierdie segment.
In die middel van die voorpaneel is ’n 10,25”-aanraakskerm wat maklike en intuïtiewe toegang tot die voertuig-, rit-, klank- en kommunikasiestelsels bied. Draadlose Apple CarPlay en Android Auto is onder meer beskikbaar.
Sleutellose toegang met afstandbeheer, ’n elektroniese parkeerrem, heuwelwegtrekhulp, ’n multifunksiestuurwiel en spoedbeheer, om maar ’n paar kenmerke te noem, sorg vir ’n redelik goed toegeruste kajuit.
Die harde plastiekoppervlaktes wat kenmerkend van hierdie segment is, word egter goed verbloem, terwyl die sitplekke met ’n kombinasie van sintetiese leer en materiaal afgewerk is – heel aanvaarbaar vir dié prysklas.
Die Nova bied genoeg kajuitruimte, met redelike kop-, skouer- en beenruimte vir vyf insittendes. Dit word ook deur die Nova se opvallend breë kajuit bevorder.
Amptelik bied die Nova 341 liter se bagasieruimte met die agterste sitplekke regop. Wanneer dit platgeslaan word, vergroot die kapasiteit volgens die vervaardiger se syfers tot 1 271 liter.
Wat veiligheid betref, skiet die Nova egter ietwat tekort teenoor sommige mededingers in die segment. Agterste parkeersensors is standaard, maar die afwesigheid van ’n trukamera is betreurenswaardig en ongewoon in hierdie segment.
Verder bied die Nova slegs twee lugsakke voor, maar elektroniese stabiliteitsbeheer en vastrapbeheer is standaard.
Volgens GAC het die Emzoom-reeks ’n vyfster-ASEAN NCAP-gradering ontvang.
Enjin en verrigting
Die GAC GS3 Emzoom Nova is toegerus met ’n 1,5-liter, turbo-aangejaagde viersilinder-enjin wat ’n maksimum van 130 kW en 270 Nm lewer.
Hierdie klasleidende krag- en wringkragsyfers sorg vir lewendige verrigting en maak die Nova een van die kragtigste motors in sy segment.
Krag word na die voorwiele oorgedra deur middel van ’n sewegang-dubbelkoppelaar-ratkas (DCT).
Die amptelike 0-100 km/h-tyd is 8,0 sekondes, wat die Nova op papier ook een van die vinnigste voertuie in sy segment en teen dié prys maak.
Die 130 kW/270 Nm het tydens ons toetsrit vir uitstekende verbysteekversnelling gesorg, selfs teen steil opdraandes.
Brandstofverbruik in ’n gemengde siklus word amptelik as 6,2 L/100 km aangegee.
Tydens ons toetstyd het ons meer as 1 000 km afgelê en ’n verbruik van 7,6 L/100 km in gemengde gebruik – op die oop pad en in stadskruipverkeer – behaal. Dit maak die Nova, volgens ons ervaring, een van die meer ekonomiese voertuie onder die 1,5-liter-turbo-aangejaagde viersilinder-petrolmodelle van die Chinese vervaardigers wat ons tot dusver getoets het.
Die brandstoftenk se kapasiteit van 47 liter is egter na ons mening ietwat klein en bied ’n reikafstand van minder as 600 km.
Ritgehalte en paddinamika
Die GAC GS3 Emzoom Nova het ons met bogemiddelde ritgehalte verras, selfs op grondpaaie.
Op die oop pad het hy uitstekend hanteer, met goeie greep, balans en stabiliteit. Selfs wanneer die pas deur uitdagende draaie en swaaie effens verhoog is, was bakrol minimaal.
Die stuurgevoel was ook relatief goed, met die gewig en terugvoer wat ons aangenaam verras het in vergelyking met ander Chinese motors wat ons al bestuur het.
Dit kan grootliks toegeskryf word aan die veerstelsel, wat van gewone MacPherson-stutte voor en ’n wringstaaf agter gebruik maak en goed opgestel is.
Opsomming
Die GAC GS3 Emzoom Nova bied bogemiddelde waarde, ten spyte van ’n paar ongewenste tekortkominge.
Die Nova is byvoorbeeld kragtiger as die meeste van sy segmentmededingers en bied goeie bestuurdersgerigte dinamika en hantering, tesame met goeie ritgehalte.
Verder is die voorkoms en stilering modern en sportief, terwyl die voertuig goed gebou en afgewerk is.
Vir gemoedsrus is daar ’n lewenslange enjinwaarborg vir die eerste eienaar, terwyl die brandstofverbruik redelik goed is.
Aan die negatiewe kant is daar geen trukamera nie, slegs twee lugsakke en ’n relatief beperkte reikafstand weens die 47-liter-brandstoftenk. Dan is die tweejaar/30 000 km-diensplan ook die kortste onder sy mededingers.


