Minder inset, meer wins: ’n Nuwe ekonomiese realiteit
Slim bemesting lei tot wins
Landbou as 'n ekonomiese onderneming verg nie noodwendig meer insette nie, maar eerder beter insetbesluitneming.
“Maksimum oes is nie maksimum wins nie.” Dié eenvoudige, maar kragtige stelling vorm die kern van ’n insiggewende aanbieding deur die grondkundige Gawie du Toit van Faktor2, wat hy in April vanjaar tydens ’n boeredag op Grootfontein gelewer het.
Hy meen winsgewende mielieproduksie lê nie in oormatige bemesting en insetkoste nie, maar in ’n gestruktureerde, wetenskaplike benadering wat insette beperk tot wat werklik nodig is.
Volgens Du Toit is stikstof (N), fosfor (P) en kalium (K) die grootste koste-items in mielieproduksie, met fosfor as die duurste komponent. Tóg toon proewe in verskeie produksiegebiede dat boere dikwels beduidend méér P toedien as wat plante benodig.
“’n Plant benodig net ’n sekere hoeveelheid voeding vir optimale groei. Boere wat deur adviseurs gelei word vir groot insette, oorskat nie net die hoeveelheid bemesting wat benodig word nie, maar dryf die boer se kostes deur die dak,” waarsku hy.
’n Reeks proewe in Bethlehem oor twee seisoene (2022-’23 en 2023-’24) het getoon dat kleiner hoeveelhede NPK-bemesting, of selfs slegs stikstoftoediening alleen, in grond met reeds hoë P- en K-vlakke, uitstekende opbrengste en beter winsmarges kan lewer.
In een geval het ’n boer met 70 kg/ha stikstof alleen ’n inkomste van R27 059/ha
behaal – skaars R388 minder as die sogenaamde maksimum oes van R27 447/ha, maar teen ’n insetkoste wat meer as R2 000/ha laer was – onthou die risiko van klimaatsvariasie vir droëlandsaaiery.
HOë INSETVLAKKE LEI TOT LAER “RENDEMENT”
’n Ander grafiek wys hoe die “rendement” – randopbrengs per rand wat aan kunsmis bestee word – drasties afneem namate insetvlakke toeneem.
Byvoorbeeld, by ’n hoë NPK-inset (121 kg/ha) met R4 543/ha koste, was die geldopbrengs van R27 447/ha, ’n skamele R6/ha.
In teenstelling hiermee, kon die besteding van 'n heelwat laer R1 055/ha, wat R24 845/ha gelewer het, 'n besonder gunstige R23/kg oplewer. Hiervolgens geld die wet van dalende-meer opbrengs, wat ’n basiese natuur-ekonomiese reël is, dus oortuigend in die praktyk.
Die koste van grondfosfor-opbou (P-opbou) word as ’n groot oorsaak van finansiële druk op boere uitgewys. Op 23 plase wat in die studie ontleed is, het die opbou van fosfor tot 38 deeltjies per miljoen (dpm) ’n gesamentlike R74 miljoen gekos – ’n koste wat Du Toit as “onnodig en skuldbevorderend” beskou.
“P is eintlik ’n mikro-element, so min daarvan word deur plante benodig. Dis ekonomies onnodig om grond-P-vlakke lukraak op te bou, wanneer puik produksie met minder bereik kan word,” sê hy.
Die aanbieding sluit ook verskeie praktiese voorbeelde onder besproeiing in: Van boere soos Sjaak van der Smit van Cullinan wat al tien seisoene lank net stikstof met suksesvolle resultate toedien, tot Claude Cloete van Dordrecht wat sy NPK-insetkoste van R11 212/ha na R5 486/ha verminder het sonder om oesgehalte in te boet.
SUKSESVERHALE WEENS LAER PRODUKSIEKOSTE
Du Toit wys verder op ’n dramatiese suksesverhaal van ’n boer in die oostelike saaigebied van Suid-Afrika, wat sy produksiekoste met meer as R8 000/ha gesny het – en ’n vorige verlies van R6 197/ha in 2023-’24 in ’n wins van R7 666/ha in 2024-’25 omskep het. Op 1 000 ha verteenwoordig dit ’n verskil van bykans R8 miljoen.
Du Toit maan egter teen die risiko van oorbesteding.
“Dis nie besteding wat jou ryk maak nie – dis slim insetbestuur wat onnodige uitgawes uitskakel en opbrengste optimaliseer.”
Hy beklemtoon die belangrikheid van grondontledings, klimaatbewustheid en ’n strategie wat op wins gefokus is, eerder as op produksie vir die skou.
Landbou as ’n ekonomiese onderneming verg dus nie noodwendig meer insette nie, maar eerder beter insetbesluitneming.
Du Toit sluit sy aanbieding af met ’n treffende herinnering: “Mielieboerdery is eintlik ’n eenvoudige oefening. Die moeilike deel is om dit eenvoudig te hou. Rig jou visier op wins, nie op rekord onekonomiese oeste nie.”
Met insetkoste wat aanhou styg en klimaatsverandering wat boere onder druk plaas, is dit dalk tyd vir mielieprodusente om hul strategie te heroorweeg – minder kan inderdaad meer wees.
– [email protected]