Stoman-egpaar vereer vir toewyding aan landbou

Mediaverklaring (Jacques du Toit)
Tydens die Namibië Landbou-unie (NLU) se 79ste jaarlikse kongres is spesiale erkenning aan Pieter en Christine Stoman gegee vir hul toewyding aan Namibië se landbougemeenskap.
Dawie Kok, bestuurslid van die NLU en verteenwoordiger van die Grootfontein-Tsumeb-Otavi Boerevereniging, het die oorkonde voorgelees.
Piet en Christine Stoman is met ’n sertifikaat van waardering vereer vir hul merkwaardige langdiens en toewyding aan die landbougemeenskap.
Piet, gebore in Durban en grootgeword op die familieplaas Venus naby Kalkveld, het van jongs af ’n lewenslange passie vir boerdery ontwikkel. Na die voltooiing van sy BSc-graad in landbou, het hy by SWALU in Windhoek begin werk en later by die Landbank, waar hy vir baie jare boere in die noordelike en sentrale streke van Namibië bedien het.
Christine (née Holloway), oorspronklik van Johannesburg, het ’n BA-graad in tale en ’n nagraadse diploma in museumkunde aan die Universiteit van Pretoria behaal. Sy het op die ouderdom van 26 na Namibië verhuis, waar sy by die Akademie (nou die Universiteit van Namibië) en later by Ohlthaver & List gewerk het – waar sy vir Piet ontmoet het.
Ná hul huwelik het die egpaar deeltyds begin boer naby Nina, voordat hulle hul op plaas Lardner tussen Otjiwarongo en Otavi gevestig het, wat hulle in 1997 gekoop het. Albei het aktiewe lede van die Otavi Boerevereniging geword, waar hulle van 2002 tot 2008 op die bestuur gedien het; Piet as voorsitter en Christine as sekretaresse.
Benewens hul eie boerdery het die Stoman-egpaar ’n groot bydrae gelewer tot die opleiding van opkomende kommersiële boere en die aanbied van bestuurskursusse oraloor die land. Piet het ook as ondervoorsitter van die Grootfontein-Tsumeb-Otavi (GTO)-streekliga gedien, terwyl Christine as sekretaresse opgetree het en sedert 2012 deel is van die Landbouwerkgewersvereniging (LWV).
Met meer as 45 jaar se diens in georganiseerde landbou, bly Piet en Christine ’n toonbeeld van toewyding, spanwerk en leierskap – eienskappe wat ’n blywende invloed op Namibië se landbougemeenskap gehad het.