’n Reis deur getalle en probleemoplossing
Daar is min dinge vir ’n tiener so lekker soos ’n kamp in die veld – sonder sein of Wi-Fi. Gooi wiskunde in die pakket, en jy het ’n wenresep vir ’n gelukkige kind.Dalk is dit nie heeltemal die waarheid vir meeste nie, maar vir Windhoek Afrikaanse Privaatskool se graad 11's van 2025 was 31 Januarie tot 2 Februarie ’n naweek om nie te vergeet nie.
Meneer Wimpie van der Merwe, Juffrou Launa Moolman, Juffrou Helena Wilders en Juffrou Salome Davin het saam met die graad 11-wiskundeleerders na Rock Lodge gegaan om weg te breek van die stres van skool en hul besige lewens.
Die kamp het nie net gefokus op die versterking van wiskundige vaardighede nie, maar ook op die bou van belangrike lewenslesse en die ontwikkeling van verskeie ander vaardighede. Die leerders se uithouvermoë is getoets met die hindernisbaan, wat spanwerk en kreatiewe denke geverg het. Voordat ’n span kon begin met die hindernisse, moes hulle eers ’n wiskundige probleem oplos. Daar was verskillende uitdagings – een daarvan het selfs ’n berguitklim behels wat die kinders saam in hul spanne moes aanpak.
Die adrenalienvlakke was hoog toe die leerders die abseil aangepak het. Party kinders se harte het ’n bietjie te vinnig geklop, ander het gedink hul harte gaan ophou klop! Maar elke kind het dit lewendig van die berg af gemaak en met groot glimlagte na die tyd daaroor gepraat. Dit was definitief vir die graad 11’s ’n belewenis.
Benewens die opwinding, het die leerders ook saam met Juffrou Launa, WAP se sielkundige, kans gehad om oor hul toekoms na te dink en die besluite wat voorlê. Hulle is ook geestelik voorberei vir die pad vorentoe en het die Bybel ’n bietjie beter leer ken saam met Jacobus Moolman en Meneer Wimpie.
Dit was ’n naweek van groot pret, nuwe vriendskappe en goeie lewenslesse. Die Wiskundekamp was dus vir die graad 11-leerders nie net ’n akademiese belewenis nie, maar ook ’n onvergeetlike avontuur wat hul batterye herlaai het en hul vaardighede op verskeie gebiede geslyp het.