Deur die lens van Steven de Beer

Zoë Karsten
Steven de Beer (18) het sy skoolloopbaan die afgelope drie jaar aanlyn gevolg en voltooi. Dit het hom die geleentheid gegee en die weg gebaan om sy passie vir fotografie te ontwikkel.

Van kleins af het Steven nog altyd in kuns en teken belang gestel. Hy het op Instagram verskillende style geleer, waarvan een fotografie was. “Toe ek jonger was, het ek foto's geneem van alles wat ek gesien het en ek was mal daaroor! Die foto's was nie altyd die mooiste nie, maar dit was herinneringe.”

Op 1 Mei 2021 het hy besluit om sy fotografieloopbaan ernstig op te neem. “Toe ek 16 was, het ek my ma se kamera gevat en 'n fotosessie saam met 'n vriendin gedoen, sommer so vir die lekkerte. Daar en dan het ek besef hoe baie ek daarvan hou.”

Soos Steven geleer en gespeel het met fotografie, het hy meer daaroor begin dink om foto’s met ander te deel. In September 2022, het hy aan 'n slypskool, Reframe, deelgeneem wat by die Nasionale Kunsvereniging (NAA) aangebied is deur 'n bekende Duitse fotograaf, Julia Runge.

“Met Reframe het ons geleer hoe om 'n fotoprojek effektief te beplan, hoe om daaroor te skryf en ons idees vas te vang. Ons het oor die etiese waardes van dokumentêre fotografie geleer en hoe belangrik dit is.”

Aan die einde van die maand se klasse en harde werk het Steven se foto’s by Café Prestige se uitstalling gehang. In Desember 2023 is die foto’s weer uitgestal - hierdie keer by Fotogalerie Friedrichshain in Berlyn.
“Die hele proses was 'n wonderlike ondervinding. Wanneer daar weer iets oor my pad kom en my aandag vasvang soos wat gebeur het by Reframe, sal ek nie twee keer dink om aansoek te doen nie,” sê Steven.

“Op die oomblik doen ek meestal leefstyl-fotosessies, soos die tipiese verlowings- , troue- en familiefoto's. Dit is so spesiaal wanneer jy besef dat mense wat jou glad nie ken nie, jou vetrou om hul mees intieme emosies en oomblike met jou te deel en jou vir daardie paar uur deel te maak van hul lewe en hulle verhouding.”
Hy voeg by: “Alhoewel ek dit baie geniet, hou ek daarvan om dit altyd meer kreatief te maak en iets unieks in elke fotosessie te sit.
“Dit is my missie om jou te fotografeer op 'n manier wat eg, tydloos, emosioneel en pret is.”