Hou koers! Eenmaal 'n Voortrekker, altyd 'n Voortrekker

My Zone het onlangs by die adjunkgebiedsleier vir bemarking van die Namibiese Voortrekkers, Elmine McCarthy, gaan inloer om meer uit te vind oor hierdie organisasie.
Zoë Karsten
“Ons is ’n moderne en dinamiese jeugorganisasie wat daarna streef om jong Afrikaanse leiers te ontwikkel as dinamiese landsburgers."
So sê Elmine McCarthy, adjunkgebiedsleier vir bemarking van die Namibiese Voortrekkers,
"Hierdie leierskapsontwikkeling vind deur Kultuur, Avontuur en Natuur (KAN) plaas en die uitkomste is selfdoen-Vaardighede, waardegedrewe-Antwoorde en praktiese-Toepassing daarvan (VAT). Deur pret, kamp, spanbyeenkomste en hegte vriendskapsbande, KAN elke kind by die Voortrekkers die toekoms in beide hande VAT met selfvertroue. Elke kind kan ontdek dat hulle KAN."
Sy brei verder uit: "Die Voortrekkers is ’n organisasie vir kinders en volwassenes. Graad R tot Graad 12 sluit as jeuglede aan en ontwikkel vaardighede soos hierbo beskryf. Ons verwelkom ook volwassenes wat as offisiere dien om ons kinders hierin te begelei. Enige volwassene wat wil deel in die wonderlike Voortrekkerervaring en wat hulle vereenselwig met ons waardes en doelstellings kan as ’n offisier aansluit."
Die Voortrekkers is reeds vir 92 jaar in Namibië aktief en die mikpunt is om elke jaar nog meer jongmense te ontwikkel as diensbare leiers vir die land.
Daar is kommando’s (takke) in Tsumeb, Otjiwarongo, Outjo, Windhoek, Swakopmund en Walvisbaai, en hulle beoog ook om nuwe kommando’s op Okahandja en Gobabis te stig.
Die Voortrekkers se diensbaarheidsprojekte sluit in betrokkenheid by die Kankervereniging sowel as ondersteuning aan ouetehuise, natuurbewaring, die DBV, en Edu-Vision.
Mia van Wyk, tans ’n student in Suid-Afrika, sê: “Ek het in graad 10 by die Voortrekkers in Namibië aangesluit en dit was een van die beste besluite wat ek kon maak. Ek het so lief geraak vir die Voortrekkers, want die mense wat jy ontmoet en die aktiwiteite en kampe wat jy bywoon, is regtig net onvergeetlik.
"Ek is tans ’n Staatmaker in Stellenbosch waar ek studeer, en ek dien ook op die Stellenbosch Staatmakersbestuur. Ons sokkie, reël ons eie kampe op ongelooflike mooi plekke, ontmoet ander Staatmakers regoor die Weskaap, en deel so baie lekker oomblikke saam!
"Dis waarlik 'Eenmaal ‘n Voortrekker, altyd ‘n Voortrekker!'."