In die kunsklas saam met Karel Kat

Die plaaslike kunstenaar Karel Schickerling bestaan uit 'n tapeserie van kuns, en met My Zone se onlangse besoek het ons sy storie sommer ver gaan haal.
Karel het as graad 1-seuntjie met kunsklasse begin na sy ma die potensiaal in sy tekeninge raakgesien het.
Zoe Karsten
“Van kleins af het ek geweet kuns sal altyd deel van my lewe wees, of dit nou sing, dans, skilder of toneelspel is."
In gesprek met die plaaslike kunstenaar Karel Schickerling, vertel hy hoe hy as graad 1-seuntjie kunsklasse begin neem het toe sy ma die potensiaal in sy tekeninge raakgesien het. Op hoërskool het hy kuns as vak geneem en was hy aan formele onderrig in verskeie vorms blootgestel.
Karel verwys graag na sy kunsjuffrou - Sannette van Zijl - as sy kunsma. “Sy het regtig ’n groot invloed op my kuns gehad,” onthou hy. "Ek kon met haar oor enigiets praat. Sy het met raad bygestaan en my aangemoedig toe die opdraendes soms styl was.”
Tydens die Covid-inperkings, het Karel meer as veertig kunswerke geskilder. Hy het ook tussen 2021 en 2022 verskeie klein kunsuitstallings aangebied en regoor die land by markies, spesiale geleenthede en funksies uitgestal. Hier het hy besef dat sy eerste liefde skilderkuns is en einde 2023 het Karel "Paint & Sip"-geleenthede landswyd begin aanbied.
Hy beskryf “Paint en Sip” as volg: “Dis 'n geleentheid waar ek ‘n persoon stap-vir-stap help om ‘n kunswerk te skep. Hy of sy kies ‘n skildery/skets wat hulle as inspirasie wil gebruik en dan help ek hulle ten opsigte van diepte, skaduwees, skakerings, ensovoorts. Dis hope pret, daar is snoephappies en wyn/koffie/tee, baie ontspanning en selfontdekking. Ek bied sulke geleenthede aan vir groepe van ongeveer 12 persone.”
Karel sê die geleenthede het gelei tot navrae oor kunsklasse. Hy het saam met sy ouers beplan en met hulle hulp sy huis in ‘n ateljee omskep waar hy nou weeklikse kunsklasse aanbied. Belangstellendes kan hom gerus kontak vir meer inligting hieroor.
Voor ons groet wou ons darem net weet waar kom die skuilnaam “Die avonture van Karel Kat” vandaan?
“Vroeg in 2022 het ek ‘n ou skoolvriendin raakgeloop vir die eeste keer na Covid, en terwyl ons gesels sê sy dat wanneer sy my op sosiale media sien, dan voel dit of sy deel is van “Die avonture van Karel Kat”. Dit het net reg gevoel en naam het gebly!"