Namibiese jeug bou bande oor vastelande heen

WAP en Switserse skool verbind jongmense deur kultuur, musiek en vriendskap.
Francouis Pretorius
Windhoek Afrikaanse Privaat Skool (WAP) en Gimnasium Kloster Disentis (GKD), ’n privaatskool diep in die Switserse Alpe, se kulturele uitruilprogram is ’n besondere geleentheid waar kultuur, musiek en vriendskap saamvloei – en dit al vir nege jaar lank.
Wat in 2016 begin het as ’n droom tydens die skool se Pretville-produksie, het gegroei tot ’n unieke vennootskap tussen hierdie twee skole.
Volgens Adél van Rensburg, die Namibiese verteenwoordiger van die program, het die uitruil ontstaan deur ’n netwerk van opvoedkundige skakeling. “Ons wou iets hê wat nie net opvoedkundig is nie, maar ook kultureel ryk; iets wat ons jongmense blootstel aan die wêreld buite ons grense,” het sy verduidelik.
Elke Oktober ontvang WAP ’n groep Switserse leerlinge wat by gasgesinne in Windhoek bly. Hulle woon klasse saam met hul gasvriende by, verken Namibië se kultuur en ervaar die land se natuurlike skoonheid. “Ons neem hulle bos toe, kus toe, laat hulle op kamele ry en vis eet. Ons wys hulle wat dit beteken om Namibiër te wees,” het Van Rensburg gesê.
Volgende jaar word die rolle omgeruil: WAP-leerlinge reis in Maart Switserland toe, waar hulle deel is van ’n internasionale kooruitreik. Hulle oefen klassieke en moderne koorwerke in verskeie tale, van Duits en Frans tot Latyn, en tree op in historiese katedrale en stede soos Zürich, Basel en Chur.
“Dis ’n ongelooflike ervaring vir ons kinders. Hulle leer dissipline, selfstandigheid, ’n nuwe kultuur en musiek op ’n vlak wat hulle vir altyd sal bybly.”
Een van die Switserse uitruilstudente, Yuki Woodtli, vertel dat die program haar oë oopgemaak het. “Ek wou die wêreld sien en het gehoor Namibië is pragtig – ek wou dit self ervaar,” sê sy. “Die natuur is heeltemal anders as by ons, en ek het geleer hoe vriendelik en gasvry mense hier is. My gunstelingervaring was beslis die wildritte.”
Vir Yuki was die grootste les van die uitruil dat mense soveel by mekaar kan leer as hulle hul harte oopmaak. “Daar is soveel in die wêreld wat jy nie sien as jy net in jou eie land bly nie. Jy moet net met mense praat en alles met ’n oop gemoed aanpak.”
WAP hoop om hierdie program nog lank aan die gang te hou. “Ons jongmense kry baie blootstelling in sport. Ons beywer ons vir soortgelyke blootstelling op kulturele gebied,” het Van Rensburg gesê. “Hierdie program gee hulle die kans om met ’n trotse Namibiese hart en as ambassadeurs ander kulture en lande te verken.”
So, of dit nou in die Switserse Alpe of in die Namibiese duine is, WAP se uitruilprogram bewys dat vriendskap, musiek en kultuur geen grense ken nie.