Napso-fees is net die begin

Die Nictus Napso Kuns- en Kultuurfees sowel as die Spar/Build It-Krieketfees was 'n groot sukses en is afgesluit met die aankondiging van die Napso-spanne.
Jeanette Diergaardt
Ná ’n suksesvolle week van kultuur, kuns en krieket kan die Namibiese Privaatskole Organisasie (Napso)-skole nog aksie verwag.
Die organisasie se kultuurspan is bekend gemaak en die groep sal op 27 Oktober na die Noorde reis, op 28 Oktober na Windhoek en op die 29ste na die kus.
“Dit was ’n uitdagende proses met talle talentvolle individue, maar ons is opgewonde om saam met hierdie span te toer,” sê Wouter Niehaus, die uitvoerende hoof van Napso. Die gekose groep sal ’n “unieke opvoering” voorberei wat met sang, dans, instrumentele uitvoerings en toneelspel sal spog.
Krieket
Die o.13- en o.19-groepe van die Spar/Build It-krieketspan is ook die afgelope naweek bekend gemaak. Dié span sal op 25 November ’n toer na Zimbabwe onderneem.
Feesverrigtinge
Een van die eerstes vir Napso vanjaar was die Kokertjie-kompetisie, waartydens die jong kokke van die betrokke skole met hul vernuf in die kombuis kon spog. Die leerlinge het sout en soet pannekoeke gemaak. Altesaam ses kokertjiespanne van Privaatskool Moria, Laerskool Walvisbaai, Elnatan Privaatskool, Windhoek Afrikaanse Privaatskool (WAP), Karstveld Academy en Tsumeb Gimnasium het deelgeneem. Karstveld Academy het die beste pannekoeke opgedis en die skool kan die sjefhoed dra as die eerste wenners van die Kokertjie-kompetisie.
“Die Napso Kokertjie was ’n groot sukses,” sê Minjonne Lepen, die mediabeampte by Tsumeb Gimnasium.
Volgens Belinda Gerber, die hoof van Tsumeb Gimnasium se laerskool, het die beplanning van vanjaar se geleentheid byna dadelik na verlede jaar se kuns- en kultuurfees begin. Die hele span onderwysers van Tsumeb Gimnasium was betrokke en het hulle goed van hul taak gekwyt.
Die Napso-kultuurhoof, Dente Louw sê die kultuurfees het vir leerlinge wie se talente in ander rigtings as sport lê, ’n geleentheid gegee om met hul kultuurvaardighede te spog.
“Dit bring uiteindelik die kind se persoonlikheid en sterk punte uit,” sê Louw.
Christiaan Grobler, die Napso-voorsitter, sê geleenthede soos die kuns- en kultuurfees is belangrik om bande te bou waar die ouers en borge sowel as al die Napso-skole kan saamkuier.
“Die kultuur-afdeling is baie uitdagend met die variasies wat groter geraak het,” sê Grobler en voeg by dit is weens die skole wat uitgebrei het en nou beide Engels en Afrikaans moet verteenwoordig.
Bedankings
Napso wil hiermee ook gebruik maak van die geleentheid om al die borge en vennote te bedank. Die borge is soos volg; Nictus Holdings, Auas Motors, Spar, Build It, Securitas, Coca Cola, Nammed, Standard Bank en Fly Namibia. Die vennote is, Namibia Media Holdings, My Zone, Noordwes Universiteit (NWU), Netwerk Namibië, Kanaal 7 en Cricket Namibia.

Krieketspan
o.13
Jasper Engelbrecht
Izaks de Klerk
Markus van Heerden
Henco van der Merwe
Janco Meeser
Wessel Esterhuyzen
Willie Swart
Emile Wilbert
Luan Moller
Gill Horn
Alonzo Abrahams
Lucas Kruger
Ben Morkel

o.19

SW Kuhn
Henré Opperman
Dylan van Schalkwyk
Tiaan van der Westhuyzen
Jandré Schlecter
Ben Brassel
Lian Derks
Aldo Meyer
Dan Brassel
Janko Engelbrecht
Shiloh Bosshoff
Adriaan Bonzaaier
Wouter Niehaus