NSSCO/AS deeltydse leerders staar steeds uitdagings in die gesig
Resultate hoog ondanks uitdagings
Die uitslae van die Nasionale Sekondêre Senior Sertifikaat Gewone Vlak (NSSCO) en die Nasionale Sekondêre Senior Sertifikaat Gevorderde Subsidiêre (NSSCAS) is Dinsdag vrygestel.In ’n verklaring het die minister van onderwys, Sanet Steenkamp, kommer uitgespreek oor die persentasie gegradeerde deeltydse studente wat in beide die NSSCO en NSSCAS van 2024 en 2025 gedaal het (92,1% tot 91,2% vir NSSCO en 76,4% tot 76,3% vir NSSCAS), al het die aantal geregistreerde studente onderskeidelik met 9,8% en 15,1% toegeneem.
Sy het gesê dat hoewel die persentasie vakke wat gegradeer word hoog is, die graadverspreiding onder leerders kommerwekkend is, aangesien die meeste leerders lae punte behaal het, wat weerspieël word in die aantal E-, F- en G-simbole wat hulle ontvang het. Volgens Steenkamp dui hierdie resultate op “volgehoue uitdagings in gehalte leeruitkomste wat geteikende ingryping vereis.”
Rholene Bok, bemarkingsbestuurder van Namcol, het opgemerk dat deeltydse leerders se resultate in die 2025 NSSCO- en NSSCAS-eksamens hulle veerkragtigheid asook 'n “dringende behoefte aan gestruktureerde ondersteuning wat ooreenstem met hulle realiteite” weerspieël. Sy het ook gesê dat die toename in die aantal deeltydse studente van 2024 tot 2025 ’n positiewe aanduiding van toegang is, maar dat doelbewuste ingryping nodig is om uitkomste te verbeter. Dit sluit in vroeë voorbereiding, sterker praktyk en terugvoer, sowel as jaar-lange betrokkenheid.
Bok het verder verduidelik dat deeltydse studente diverse individue is wat met baie verskillende uitdagings en omstandighede worstel, insluitend “beperkte kontaktyd, mededingende verantwoordelikhede soos indiensneming en versorging, vervoerhindernisse na sentrums, en die realiteit dat baie leerders na lang tydperke terugkeer om te studeer.”
Baie leerder het ook nie internet toegang nie, wat hul toegang tot aanlyn ondersteuning, toestelle en konnektiwiteit beperk. Sy het bygevoeg dat nasionale aandag en gerigte ondersteuning vir deeltydse leerders kan lei tot verbeterde gegradeerde vakke, minder herhaling van vakke en ’n sterker vordering na tersiêre onderrig en indiensneming.
In haar slotopmerkings het Steenkamp die belangrikheid beklemtoon van deeltydse instellings en eksamensentrums om hulle verantwoordelikheid met integriteit, professionaliteit en toewyding aan te pak. Hulle moet verhoed dat leerders gebukkend gaan onder finansiële druk wat om die beurt lei tot 'n gebrek aan die nodige ondersteuning en leiding om te slaag. Bok het verder benadruk dat om deeltydse studente landswyd te ondersteun en te motiveer, ’n nasionale minimum ondersteuningsstandaard sowel as gehalteversekering oor alle deeltydse instellings in Namibië benodig word.


