Susters maak skuiwe by Afrika-jeugskaakkampioenskappe

Drie susters uit Swakpmund, Amelia (13), Annelise (12), en Angelique Brown (9) behaal 'n plek op die Namibiese nasionale skaakspan vir die eerste keer laas maand. Hulle neem deel teen wêreldgehalte spelers van ander Afrika-lande by die Afrika-jeugskaakkampioenskappe in Suid-Afrika.
Phillipus Josef
In die o/10-ouderdomsgroep by die Afrika-jeugskaakkampioenskappe het Angelique 17de plek uit 40 deelnemers behaal, terwyl Amelia 33ste plek uit 42 spelers in die o/14-ouderdomsgroep. Annelise was Namibië se top-deelnemer met haar 5de plek in die o/13-ouderdomsgroep.
Amelia
“Ek het skaak ernstig begin speel nadat ek blootgestel is daaraan by die skool as ’n vak. My afrigter en ouers het my aangemoedig om harder te oefen en aan meer toernooie deel te neem,” sê sy.
Ten spyte van die struikelblokke by die internasionale toernooie, bly Amelia gemotiveerd: “Om wedstryde te verloor kan baie demotiverend wees, maar ek herinner myself dat elke verloor ’n les is.”
In die toekoms beoog sy om Namibië by ander wêreldkampioenskappe te verteenwoordig en om ’n FIDE (Internasionale skaakfederasie)-titel te wen.
Angelique
Self op haar jong ouderdom het Angelique al baie potensiaal getoon. Haar ouers speel ’n sentrale rol in haar skaakloopbaan, en ondersteun haar toernooideelname en weeklikse lesse.
Voordat sy wedstryde speel, gebruik Angelique asemhalingstegnieke en sê Psalms op om kalm te bly. “Dit help my om rustig te wees, wanneer die groot kampioenskappe te senutergend raak, vertel sy.
Annelise
Haar liefde vir skaak het in 2020 begin. “My ma het my aangemoedig om by ’n skaakklub aan te sluit, en my afrigter het my gehelp om te verbeter deur skaak-puzzles en taktieke te oefen,” verduidelik sy.
’n Hoogtepunt vir haar is toe sy ’n drie FIDE-gradeerde spelers by die Afrika-jeugskaakkampioenskappe gewen het en haar eie FIDE-gradering van 1619 gekry het. Haar toekomstige doelwit is om ’n FIDE-titel te behaal.
Hulle ouers se ondersteuning is onskatbaar. Hulle dek die koste van lesse en toernooie. Pa, Andrew Brown, noem dat hy baie trots is op hulle vordering deur die jare en sien uit om te sien wat hulle in die toekoms kan bereik.
“Dis lekker om te sien hoe hulle karakters ontwikkel deur skaak. Aanvanklik was daar baie senuwees en en trane as hulle verloor, maar nou is hulle vreesloos en is bereid om enige iets aan te pak.”