Vet pret. Nee, taai pret!

Lana Sachse
Die waatlemoenfees het Saterdagoggend vroeg - té vroeg vir sommige skoliere - afgeskop met opgewonde Wappers in vrolike kostuums en die leerlingraad van 2023 wat saam soos die Griekse gode van Windhoek gelyk het. Oumas, ruimtemannetjies en vele ander karakters het ook ’n verskyning gemaak. Die Scooby-Doo-karakters het uiteindelik die prys vir die beste kostuums gewen. ’n Mens sou sweer hulle het net so uit die televisie geklim!
Die adrenalien het hoog geloop toe almal by Wanderers se hek gewag het vir die fluitjie om vir die landloop weg te spring. Mnr. Petri van Wyk het eers ’n paar grappe gemaak voordat hy die fluitjie regtig geblaas het. Die leerlingraad en van die ander matrikulante het weer eens die voorreg gehad om met hulle karre om die blok te ry terwyl die ander graad sewes tot elfs loop of hardloop. Matrieks mag dan hulle mede-skoliere met watergewere of ballonne bykom – pret waarna Wappers altyd uitsien!
Monica Steenkamp, wat in matriek is, was die eerste meisie wat die eindstreep bereik het. Zander van Rooyen, wat in graad tien is, het vanjaar die landloopbeker in die seuns-afdeling gewen.
Na die prysuitdeling het die régte pret eers begin! Die jongstes van die groep het ? aparte afbakening gehad waarin hulle mekaar met waatlemoen besmeer het. Die hele hoërskool was in ? groter blok.
Niks het die skoliere gekeer om hulle vriende met groot stukke waatlemoen aan te val nie. Gelukkig het niemand hierdie jaar enige beserings opgedoen nie. Na tien minute het almal weggestap met waatlemoenstukke in hulle hare, desperaat vir ’n bietjie water om die taaiheid af te was. Gelukkig was daar ’n seil met water en bietjie seep waarop hulle kon gly!
Vanjaar se waatlemoenfees was presies wat die skoliere nodig gehad het om ’n bietjie uit te kom, oefening te kry en hulself regtig te geniet! Uiteindelik het al die Wappers met glimlagte en taai lywe weggestap.