Windhoek Afrikaanse Privaatskool - in Engels

Die eerste graad 8's wat al hulle onderrig in Engels ontvang het by Windhoek Afrikaanse Privaatskool, maak hierdie jaar klaar met matriek.
Aldo Horn
In 2020 het Windhoek Afrikaanse Privaatskool (WAP), wat toe uitsluitlik onderrig in Afrikaans aangebied het, ‘n Engelse stroom in graad 8 begin waar leerders al hulle vakke in Engels kon ontvang.
Die doel van hierdie stroom was om die skool oop te maak tot meer aansoeke en om leerders die geleentheid te gee om onderrig in Engels te ontvang, het WAP se hoof, Kobus Espach, gesê.
Hy meen voorts die Engelse stroom is gewild en volgens klaslyste wat verskaf is, is die Afrikaans en Engelse stroom deur ‘n vergelykbare aantal leerders verkies.
Altesame 192 hoërskoolleerders het in die Afrikaanse stroom gebly terwyl 160 leerlinge besluit het om na die Engelse stroom te skuif .
Espach sê dit maak ook meer deure vir WAP-leerders oop. \"As ‘n leerder die Engelse stroom probeer en nie daarby baat nie, word hulle toegelaat om terug te skuif na die Afrikaanse stroom.\"
Volgens WAP sehoofmeisie, Luré Horn, het sy oorweeg om die Engelse stroom in graad 8 te volg, maar uiteindelik daarteen besluit. “Ek het gedink as ek nou in Engels klas kry, sal dit makliker wees op universiteit, maar ek kan myself nie onderrig in \'n ander taal as my eerste taal indink nie. Ek is glad nie spyt oor my keuse nie, alhoewel ek heeltemal verstaan hoekom ander die Engelse stroom gekies het.\"
Die onderwysers moes aanpas om in Engels klas te gee, aangesien die meeste van hulle gewoond was aan Afrikaanse onderrig. “Die onderwysers by WAP is van fantastiese gehalte. Hulle moes in die begin leer, maar van daar af loop alles vlot,” voeg Espach by.
Espach sê daar is geen planne om die skool se kommunikasietaal te verander na Engels nie, want WAP bly ‘n Afrikaanse skool.