Doelgerigtheid is haar leuse

Mariana Balt
Wanneer Anné Otto van Windhoek Hoërskool op die netbalbaan stap, rig sy haar gedagtes doelgerig op die posisie wat sy daardie dag speel en doen haar uiterste bes.
Dít is gewoonlik genoeg om aan haar span ? wen-voordeel te gee, ongeag die spesifieke posisie wat sy op die baan speel. “Wel, solank dit enige verdedigende posisie is,” lag dié speler, wat haar “hele toekoms” rondom die spel beplan.
Anné was nie net in Mei vanjaar deel van die ANOCA-netbalspan wat in Botswana teen ses ander lande deelgeneem het nie, sy het ook die Namibiese span as kaptein daarheen gelei.
Sy is vir die Namibiese netbalspan gekies wat van 11 tot 13 Augustus in die vriendskaplike Drienasie o.19-toernooi teen Engeland en Botswana gespeel het, maar moes weens ? enkelbesering onttrek. Die toernooi was ter voorbereiding van die o.20-Jeugspele wat in Desember in Zimbabwe gaan plaasvind.
Maar netbal is nie haar enigste forte nie, sy is ook vir die Namibiese Sone 6-atletiekspan gekies wat Desember in Zimbabwe teen ander lande gaan kragte meet.
Anné vertel dat sy as laerskoolleerling op Grootfontein reeds begin netbal speel het, “omdat dit maar die ding was om te doen in ? klein dorpie”. Sy het ook in atletiek uitgeblink, veral in diskusgooi en gewigstoot, maar toe sy vir haar hoërskooljare Stellenbosch toe gestuur is om haar sport verder te beoefen, het netbal gaandeweg die oorhand begin kry.
As Namibiër het dit vir haar moeilik geword om in Suid-Afrika aan groot en nasionale toernooie deel te neem en sy het vir haar laaste twee skooljare teruggekom Namibië toe. Sy het intussen ook haar vaardigheid as doelgooier begin slyp en vaar baie goed daarmee.
Sy beplan om volgende jaar regte aan Unam te studeer sodat sy Namibië verder in die sport kan verteenwoordig, maar die lang, lenige meisie se groot droom is om tydens ? groot toernooi deur ? afrigter raakgesien en oorsee genooi te word om daar te gaan speel.
Vir eers konsentreer sy egter op haar skooleindeksamen wat voor die deur is, maar maak ook tyd om sosiaal saam met vriende te verkeer of in die swembad af te koel.