Groep maak hul harte oop vir diere

Mariana Balt
Hulle gee om vir honde en katte en bestee ure om die getal ongewenste en hawelose diere in die stad te verminder.
Só sê Eileen Grosse-Weischede van Have a Heart, ? nie-winsgewende organisasie wat geld insamel om diere in groot getalle tydens georganiseerde “spayathons” te steriliseer in 'n poging om die aantal verdwaalde en ongewenste honde en katte in die laer inkomste gebiede van Windhoek te verminder.
Op 5 en 6 September het hulle die tweede spayathon van die jaar in Windhoek gehou. Gedurende die twee dae is 69 honde en 32 katte van 'n informele nedersetting en 13 honde van die DBV gesteriliseer.
Gedurende Meimaand se spayathon is die honde en katte na die DBV se perseel vervoer, waar 'n groep Windhoekse veeartse die operasies gratis uitgevoer het. Have a Heart het die mediese benodigdhede gratis verskaf.
Hierdie keer is die diere na beide die DBV en Windhoek Dierehospitaal, Windhoek Veterinary Clinic, Corner House Veterinary Clinic, Rhino Park Veterinary Clinic en dr. Arnold Olivier se kliniek geneem.
Veeartse wat deelgeneem het, is drs. Adriaan Adank, Simone Herzog, Sajeni Shepherd, Anja Boshoff, Morgan de Witt en Megan Darling. Die mediese toerusting is weer eens deur Have a Heart verskaf en die veeartse het hul dienste almal gratis aangebied.
? Span vrywilligers bestaande uit veeartsenykundige studente van Unam het die veldwerk gedoen en die honde en katte versamel en na die DBV gebring. Hier het hulle ook met die hantering en voorbereiding van diere gehelp en bystand tydens die operasies verleen.
Hoewel die DBV en Have a Heart as twee afsonderlike organisasies funksioneer, werk hulle nóú saam tydens hierdie projek. “Ons gebruik die DBV se geriewe en infrastruktuur en op ons beurt steriliseer ons weer sommige van hul diere,” sê Grosse-Weischede.
“Ons wil graag die publiek bedank vir hul geldelike ondersteuning asook die Jacquie Tarr Kunsuitstalling as ons grootste enkele skenker tot datum. Sonder u ondersteuning is ons nie in staat om ons leuse - verlossing deur sterilisasie - gestand te doen nie.”
Meer inligting is op die Have a Heart Facebook-bladsy beskikbaar of mense kan ? e-pos na [email protected] stuur.
Skenkings kan in die volgende tjekrekening inbetaal word: Have a Heart Windhoek, Bank Windhoek, Rekeningnr. 800 401 0855, Takkode 483 872 (Maerua Mall).