Okahandja se begraafplaas 'n kopseer

Yolanda Nel
Yolanda Nel – Inwoners van Okahandja is woedend oor die toestand van die begraafplaas terwyl die munisipaliteit versuim om hierdie laaste rusplek in stand te hou.

Afgesien van die feit dat die begraafplaas vuil is, het dit ’n gevaarlike area geword en voel mense onveilig om daarheen te gaan. Om by ’n graf uit te kom, moet jy jou weg oopskoffel en is mense bang vir slange of skerpioene.

“Die lang gras bied ook skuiling vir booswigte en voel mens redelik onveilig om begraafplaas toe te gaan,” sê Renate Hoffmann van die dorp.

Terwyl sommige boomstompe half afgekap staan, bly bome wat omgeval het net daar lê en is die area vuil van die rommel wat nie opgetel word nie.

Die plaaslike boerevereniging in samewerking met die sakekamer het die begraafplaas vyf jaar gelede opgeknap. “Dit het baie geld, tyd en moeite gekos en die enigste versoek aan die munisipaliteit was om die stuk grond in stand te hou,” sê sy.

Terwyl inwoners vir munisipale dienste betaal, word niks gedoen om die begraafplaas in stand te hou nie. “Dit is walglik,” sê sy.

Besoekers aan die begraafplaas het nie toegang tot waterkrane nie en kan hulle nie die plante op hul geliefdes se grafte natlei nie. Terwyl die krane by die grafte afgesny of verwyder is, staan ’n pyp by die kapel amper 30 cm bo die grond uit. “Die water loop doelloos in die sand in, terwyl struike en bome nie water kry nie.”

Ook die kapel, wat al vir jare nie meer in gebruik is nie, is verwaarloos. Daar is nie meer banke binne nie, die vensters is stukkend en daar is ook geen deur nie. “Vloekwoorde is oral teen die muur gegraffiti,” sê Renate.

Hierdie saak lê die mense van Okahandja na aan die hart en sê Renate dat dit skrikwekkend is hoe min respek die owerhede van die dorp vir sy inwoners het.

“As jy nie eers respek het vir diegene wat dood is nie, watter respek het jy dan vir jou lewende medemens?” vra sy. “Ons kla al so lank oor hierdie probleem en niks word daaraan gedoen nie. ”

Die munisipaliteit is vir reaksie genader, maar teen druktyd is geen kommentaar ontvang nie.