Oude Rust brei uit
Die oprigting van nog agt woonstelle by Oude Rust Oord het begin.Hierdie ontwikkeling is 'n eerste in Namibië in dié mate dat dit die eerste keer is dat woonstelle direk by 'n sorgeenheid geïntegreer word.
Vier van die eenhede sal by die sorgeenheid aansluit en is ideaal vir egpare waar een of beide begin verswak en dus hulp van die sorgeenheid verlang. Die ander vier eenhede word vir selfversorgende ouer mense gebou
Intrekkers in die nuwe woonstelle sal volle toegang hê tot al die lewensverrykende aktiwiteite wat deur die oord aangebied word, en ook tot 24-uur sekuriteitsdienste, etes, wassery, skoonmaakdienste en die 24-uur mediese versorgingsdiens.
Die eenhede is ontwerp deur ’n argitek wat wyd bekend is vir haar sterk fokus op ontwerpe wat inskakel by die omgewing, en in hierdie geval, spesifiek by die behoeftes van ouer mense. Hierdie agt eenhede bestaan uit tweeslaapkamer woonstelle wat elk 63 vk meter groot is. Die eenhede word op die beginsel van lewensreg bemark.
Die beplanning is dat dit nog vanjaar voltooi sal wees en belangstellendes kan die bestuurder, mnr. Schalk van der Merwe, of die maatskaplike werker, me. Elzbeth Swart, by 061 22 7023 skakel.
Oude Rust Oord is reeds meer as vyftig tot diens van bejaardes. Dit het in 1931 as die Werth-tehuis ontstaan, maar het gou te klein geword. In 1959 is die bestuur deur die NG Kerk oorgeneem en die huidige geboue kompleks is opgerig.
Ds. J.T. Potgieter, wat hom vir die oprigting van die tehuis beywer het, het in 1966 gesterf en ’n jaar daarna is die tehuis na hom vernoem. In September 2006 is die tehuis na Oude Rust Oord herdoop.
Die oord ondersteun ook versorgers wat Alzheimer-pasiënte versorg, reik uit na ouer mense in Katutura, en bied ? tuissorgprogram aan.